Zavion Louw is ’n borrelende vyfjarige kleuter van Paarl-Oos wat, buiten dat hy oogkanker oorleef het, ook sy regteroog verloor het.
Hierdie opdraande het Zavion egter sterker gemaak en hy vier vandag (15 Februarie) se Wêreld-kinderkankerdag met ’n gelukkige kinderhart.
Volgens Gwendeline Louw, Zavion se ma, het die gesin op 29 Maart verlede jaar die hartverskeurende nuus gekry dat hul bruinoog-babbelbekkie oogkanker het.
“Ek het gesien sy regteroog het sulke wit spikkels,” het Gwendeline vertel.
Daarna het Zavion eers ’n draai by die oogarts gaan maak, wat bevestig het dat die kleuter baie min sig in daardie oog het, en die gesin vir verdere toetse na die hospitaal verwys.
Met hul aankoms by Tygerberg-hospitaal is bevestig dat Zavion ’n kwaadaardige groeisel op sy oog het, wat wel kankeragtig was.
Die kleuter het daarna vir ses maande chemoterapie ontvang.
Sy regteroog is ook in hierdie tyd verwyder as ’n voorsorgmaatreël vir die kanker om nie na die ander oog of die brein te versprei nie.
“Zavion het aan die begin nie verstaan wat aangaan nie, en het die heeltyd gevra, ‘Mammie, hoekom lyk my ogie so?’”
“Ek het nie geweet wat om vir hom te sê nie; dit het my hart gebreek,” het Gwendeline vertel.
Elke donker wolk het egter ’n silwer randjie.
Volgens Gwendeline is die kanker tans in remissie, en al moet hy staatmaak op net sy linkeroog, is hy steeds ’n “lewenslustige seuntjie”.
Geld word op die oomblik ingesamel om Zavion van ’n kuns-oog te voorsien, maar die koste van die inplanting beloop R20 000.
Geldelike skenkings kan by GJ Swarts (rekeninghouer), FNB-Paarl-tak, rekeningnommer 63073081910 (tjek), gedeponeer word.
Dié lewenslustige kleuter is vanjaar in graad R aan die Primêre Skool William Lloyd en vaar goed – ten spyte van sy kankerstryd.
Wêreld-kinderkankerdag word jaarliks op 15 Februarie gevier, met die doel om bewusmaking van kanker by minderjariges te skep.
Die Little Fighters Cancer Trust, ’n kinderkanker-organisasie sonder winsbejag en wat in 2010 gestig is, ondersteun gesinne oor Suid-Afrika heen, maar spesifiek ook in die Drakenstein, wat volgens sy webtuiste ook deur kinderkanker geraak word.
Volgens die organisasie moet volwassenes bewus wees van die gevaartekens van kinderkanker, anders is dit moeilik om die siekte hok te slaan:
- Gewigsverlies;
- Hoofpyn – gewoonlik in die oggend saam met braking;
- Gewrigspyne in die rug of bene;
- Onverklaarbare knoppe;. Oormatige kneusing of bloeding;
- Veluitslag;
- Hardnekkige en voortdurende infeksies; ’
- n Wit kleur agter die pupille;
- Naarheid;
- Konstante moegheid;
- Konstante koors; en
- ’n Verandering in sig.
Besoek die Little Fighters Cancer Trust se webtuiste vir verdere inligting.


