Akteur Adrian Steyn, fiksheidsinstrukteur Olivia du Plessis en die rugbyster Juan de Jongh is onder die verskeie bekendes wat eersdaags aan die Buddywalkathon sal deelneem.



Die maatskaplike impak van die korona-krisis skep vir talle mense onsekerheid oor waar hul volgende maaltyd vandaan gaan kom.

Dit is waarom ’n groep Paarliete besluit het om ’n Buddywalkathon te reël. Dié Buddywalkathon gaan Saterdag 30 Mei om 18:00 plaasvind.

Die publiek word genooi om minstens R50 vir elke kilo­meter wat hulle aflê te skenk en ’n video daarvan op sosiale media te laai en die Buddywalkathon op Instagram te tag. Elke 3 km wat voltooi word, sal dan ’n gesin van vier vir ’n week voed.

Bekendes in die Paarl het hierdie staptog met ope arms verwelkom.

Die fiksheidsinstrukteur Olivia du Plessis, die rugbyspeler Juan de Jongh, sepiesterre Clint Brink, Bradley Olivier, Adrian Steyn en Hein Poole, die muay thai-bokser Ashley Robinson en Mnr. SA 2019  Heinrich Gabler is onder die verskeie bekendes wat reeds ingestem het om deel te neem.

Netso kry die plaaslike algemene praktisyn, Melissa Meyer, ook haar stapskoen reg vir die geleentheid en sien dit as ‘n geleentheid om bewusthheid rondom die veiligheidsmaatreëls om jou teen Covid-19 te beskerm. 

Die geld sal aan ’n plaaslike organisasie sonder winsbejag, die Theys and Lydia Lewis Foundation, geskenk word. Hulle voed dikwels tussen 100 en 118 families in die Drakenstein-gebied per week. 

Een van die organiseerders, Vicki Brink, sê hulle het ’n groot parkeerplek waar hulle gaan stap (met ’n afstand van 2 m tussenin) en Paarl FM sal dit regstreeks uitsaai.

“Soos die bekendes stap, gaan ons hulle kry om in te teken en soos hulle oefen kan jy pledge.” Die publiek het reeds 200 km ge-pledge. Be­soek Theys & Lydia Lewis Foundation op Facebook of bel Vicki by 076 521 8861.

You need to be Logged In to leave a comment.