Al ooit gehoor dat ’n hoenderhen ’n ander voël se kleintjies uitbroei en versorg?
Louis Malan (20), die eienaar van ’n hen en haar eende-kroos, het met Paarl Postgesels oor hoe sy donserige eksperiment die lig gesien én gewerk het.
Malan woon op ’n familieplaas by die Lady Loch-pad buite Wellington, waar hulle ’n gemengde boerdery besit.
Vanaf 2018 het hy ’n spesifieke belangstelling in die teel en grootmaak van hoenders, en versorg ook ’n aantal eende wat sy ouers gekoop het.
Die broeiseisoen van al twee die voëlspesies het begin, maar omdat die hoenders se bloedlyne te nou verweef is, en die haan wat die hen bevrug het hegte familie is, kon Malan nie toelaat dat die hen daardie stel eiers uitbroei nie.
Malan het toe die eiers by die hen weggevat sodat die kuikens nie gebreklik gebore word nie, maar agtergekom dat dié hoenderhaan “baie broeis” is en “net wil sit [op eiers]”.
Dieselfde tyd toe dié episode hom uitgespeel het, het ’n eend ’n paar eiers gelê, maar dié se moederlike instink het nooit ingeskop nie, en sy het haar eiers eenkant toe geskop en aangegaan met swem en slakke eet.
Volgens Malan het hy toe die eende-eiers onder die broeis hoenderhen se pens geplaas, waarna die eerste twee eendjies op 23 September suksesvol uitgebroei het, en die laaste vier ’n dag later.
Volgens hom het dit om en by 28 dae geduur vandat Malan die eiers na die hoenderhen gevat het totdat die donserige geel eendjies die lig gesien het.
“Ek het die eiers elke oggend met ’n spuitbottel nat gemaak, omdat ’n eend onder normale omstandighede wanneer sy van die nes af klim, gaan swem, en dan weer met haar nat lyf op die eiers kom sit,” volgens Malan.
Hy het verduidelik sy hoenderhen se moederlike instink het dádelik ingeskop en sy was van die intrapslag af onafskeidbaar van haar kwakende kroos.
“Die ma het hulle [die eendjies] dadelik aanvaar en aangepas,” het Malan uitgebrei.
Volgens hom eet eende hul kos nat, terwyl hoenders droë graansoorte verkies. Nietemin pas die hoender-ma aan by haar nuwe realiteit en eet sy wel die nat kos, maar pik heel eerste die droë sade op.
Tans bring die eendjies en hul aanneem-ma bedags tyd saam in ’n hok in die agterplaas deur, terwyl Malan hulle in die aand in die huis hou om ’n ogie oor hulle te hou.
Die ma en haar kroos sal vir eers die komende somermaande só deurbring totdat die eendjies op 12 weke weggevat gaan word en saam met hul biologiese familie sal ouer word.
Vanjaar is die tweede keer dat Malan dié eksperiment uitvoer, maar die eerste keer dat hy sukses behaal.
Volgens hom het hy dit verlede jaar ook aangepak, maar niks het uitgebroei nie.
“’n Aanhouer wen,” het dié bobaas-teler grapperig gesê.
Op die oomblik is daar om en by 200 hoenders op die plaas met min of meer 50 eende waarna Malan daagliks omsien. “Ek het oorspronklik begin om net met ’n paar hoenders te boer, want toe was die eiers ook so duur [soos nou] in die winkels. Ek het eers net die hoenders gehad om vir die huis [die Malan-gesin op die plaas] te lê, en later uitgebrei deur nog eende [en hoenders] te kry.”
Sy doel met die eende was eers om hulle aan te wend in die wingerde waar hulle die slak-bevolking in toom hou, maar omdat dié gebied nie omhein is nie, word hulle tans aangehou in ’n gebied wat as ’n groot hok dien.
Malan het in 2021 aan die Hoërskool Hugenote gematrikuleer en studeer tans diere- en plantproduksie by ’n aanlyninstelling.