Die Drakenstein-munisipaliteit se brandweer- en ambulansdienste loop gereeld onder gewelddadige aanvalle deur.
Hiérdie soort gevalle verhoed nooddienswerkers om hul werk te doen en mense wat ernstig siek is, te stabiliseer, of brande wat binne sekondes kan versprei, te blus.
Só ’n voorbeeld is die onlangse brand op 15 Oktober in die Lovers Lane- informele nedersetting in Paarl-Oos, waar ’n munisipale brandweerwa met klippe bestook is.
Volgens ’n verklaring van die Drakenstein Farm Watch (DFW) is die munisipale brandweerwaens met bakstene bestook en ’n ruit stukkend gegooi, waarna die brandweer uit die gebied onttrek het om vir die polisie te wag.
Volgens ’n bron by die Drakenstein-munisipaliteit se ambulansdienste beleef die instansie reeds soortgelyke aanvalle van vóór die Covid-19- pandemie toe ambulanse meestal in “minder gegoede gebiede” bestook en nooddienste-werkers aangeval is.
Dié gebiede sluit in Van Wyksvlei in Wellington, Mbekweni, Chicago, en Groenheuwel.
“Dit [die werk as ambulansdienste] raak al hoe gevaarliker. Ons moet koeëlvaste baadjies dra en dit is moeilik om daarmee te werk.”
Buiten die koeëlvaste baadjies is daar ook ligte reg om die ambulans om bewustheid te skep van die werk wat die nooddienste verrig.
Die bron het verduidelik dat die aanvalle sporadies plaasvind en dat daar dus geen patroon is nie, maar dat daar wel ’n hele paar hierdie jaar plaasgevind het.
Volgens hulle begelei die plaaslike polisie hulle daagliks na gevaarlike gebiede, wat die aanvalle gewis demper, maar nie stop nie.
Daar was al ’n voorval waarin ’n polisie-voertuig bestook is en toe kon die ambulanspersoneel nie hul dienste lewer nie.
Volgens die nooddienswerker is die polisie veral bang om die ambulanse te begelei gedurende beurtkrag wanneer hulle nie goed kan sien waar die gevaar wegkruip nie.
’n Vraag waaroor baie mense wonder, is hoekom word nooddienswerkers so gereeld geteiken?
Die bron het verduidelik dat hy nooit die antwoord hiervoor sal hê nie, maar hy dink wel dit is omdat verskeie inwoners teleurgestel word in die gehalte van dienslewering van die nooddienste.
Ander redes sluit in bendes wat “ ’n ding doen net omdat hulle dit wil doen”.
Volgens hulle is dit ’n gesukkel om die gemeenskap binne die Drakenstein-munisipaliteit weens ’n tekort aan ambulanse doeltreffend te bedien.
“Daar is een ambulans per 70 000 inwoners,” het hulle verduidelik.
Nog ’n uitdaging is die plaaslike polisie wat ook onderbeman is en somtyds nie betyds beskikbaar is om die ambulans te begelei nie.
Volgens Gerald Esau, die uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, word die munisipaliteit se brandweerdienste “nie op ’n gereelde basis aangeval nie”.
“Die tye wanneer daar wel aanvalle was, was dit nie noodwendig oor die gemeenskap se ongelukkigheid met Drakenstein se brandweerdienste nie, maar eerder kwaaddoeners wat die geweld aanhits,” sê Esau.
“In die meeste gevalle wanneer daar aanvalle was, is ons voertuie met klippe bestook. Van ons beamptes is ook al gedreig en aangerand, van wie drie ernstig beseer is.”
Esau het verduidelik dat dié aanvalle nie gebied-spesifiek is nie, met geen aanduiding of dit toeneem of afneem nie.