Die Taalmonument bied opleiding oor boekherstel en -bindery vir beginners aan met die boekherstel-spesialis George Wentzel by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM).

Wentzel, ’n gekwalifiseerde meester­boek­binder met 46 jaar ondervinding, bied van 3 tot 5 Oktober (09:00 tot 16:00) ’n kursus oor die herstel van ou harde­bandboeke aan. Hy het voorheen in die Nasionale Biblioteek se boekbewarings­afdeling gewerk. Geen vooraf opleiding is nodig vir die tweetalige kursus nie. Deelnemers sal drie boeke maak en bladgoudwerk en basiese boekherstel­werk doen. Ingesluit is werksprose­dures, ’n oorsig van die dele van ’n boek en die samestelling daarvan, asook demonstrasies van en praktiese oefeninge in skutblaaie, boekbindwerk, leerbindwerk, omhulsel-afronding en bladrugsteun.

Die koste is R2 000 per persoon en sluit in ’n sertifikaat van bywoning en basiese gereedskap. Bespreek by Jeffrey by bemarking2@taalmuseum.co.za of 021 872 3441. Koffie en tee is ingesluit. Deelnemers moet hul eie etes bring of dit by die ATM-koffiehuis koop.

You need to be Logged In to leave a comment.