Die Jack Meyer-kunssentrum begin 2020 op ’n hoë noot met uitstekende resultate wat deur hul matriekleerders in die visuele kuns en ontwerpkuns behaal is.
Die klasgemiddelde is ver bo 80% in al twee vakke.
Hierdie prestasie weerspieël die uitsonderlike hoë standaard van die werk wat by dié kunsskool aangebied word, wat kunsonderrig aan ’n groot aantal skole in Drakenstein bied.
Die personeel is veral trots daarop dat Suid-Afrika se topmatrikulant, Madelein Dippenaar, daarin geslaag het om 98% in visuele kuns (skilderkuns) te behaal ten spyte daarvan dat dit haar agtste vak was. Voorts het Hannah Wilkinson (skilderkuns) en Mieke Wiehmann (grafiese kuns), albei van die Hoër Meisieskool Paarl, 100% vir visuele kuns gekry.
Wilkinson is aangewys as die Wes-Kaap se topleerder in visuele kuns.
Die jaar 2020 bring ook ’n paar veranderings vir die kunssentrum. Debbie Annas sal die tuig as hoof by Elza Slabber-van Deventer oorneem.
Die kunsskool, wat voorheen as die Paarl-kunssentrum bekend gestaan het, vier vanjaar sy 40ste bestaansjaar.
Die verandering van die naam van die skool na die Jack Meyer-kunssentrum is aangemoedig deur ’n voormalige hoof, Haven Clark. Volgens Annas was dit ’n gebaar van groot waardering en erkenning aan Jack Meyer, wat destyds die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) se kunsinspekteur was, om die kunsskool na hom te vernoem.
“Meyer het daarin geslaag om die onderwysdepartement te oortuig om ’n aantal van hierdie sentrumskole, wat spesialis-kunsonderrig voorsien, te stig. Buiten vier kunssentrums in die Wes-Kaap, is twee in die Oos-Kaap en een in die Noord-Kaap op die been gebring. Meyer was tot sy dood ’n beskermheer van kunsopvoeding en is bekend vir sy werk om kuns as volwaardige skoolvak te vestig,” het Annas gesê.
Die kunssentrum gaan nou aan leerders wat nie kuns as ’n eksamenvak neem nie, die geleentheid bied om buite-kurrikulêre klasse in die praktiese dissipline van hul keuse te voltooi.
Die skool beoog om die diens wat die kunssentrum bied na ’n groter aantal voederskole uit te brei en die moontlikheid om algemene kuns deel van die gr. 9-vakkeuse te maak.. Ouers en leerders wat nog inligting wil hê, word genooi om die Jack Meyer-kunssentrum in Hospitaalstraat te kom besoek of die kantoor weeksdae tussen 09:00 en 16:00 by 021 872 2095 te skakel.