Die Jack Meyer-kunssentrum in Hospitaalstraat nooi alle graad 9-leerders wat graag kuns as ’n eksamenvak wil neem, om op enige Woensdagmiddag in September by die kunssentrum ’n aanlegtoets te kom aflê.
Daar is twee sessies op albei dae – van 14:30 en 15:30. Alle belangstellendes is welkom. Die toets is bloot vir die skool om die beste praktiese vakdissipline aan te beveel, na gelang van ’n leerder se aanleg.
Leerders wat belangstel in kunsklasse, maar dit nie as eksamenvak wil neem nie, kan die kunssentrum in Januarie 2021 kontak en sal toegelaat word om praktiese kursusse te loop waar daar ateljeeruimte is, maar vakleerders sal voorkeur geniet.
Die vakke waaruit voornemende kunsleerders kan kies, is ontwerpkuns of visuele kuns. Elke vak het ’n teoretiese komponent en ’n praktiese komponent.
In ontwerpkuns kan gekies word tussen juweliersontwerp of tekstielontwerp as praktiese dissipline. Die fokus in hierdie twee kursusse is om ontwerpbeginsels toe te pas deur die aanleer van ’n verskeidenheid tegnieke en tegniese vaardighede om oorspronklike produkte van ’n hoë standaard te skep in goed toegeruste ateljees.
In visuele kuns kan leerders kies tussen grafiese drukkuns, skilderkuns en gemengde mediakuns. Leerders mag kies om ook te fokus op tekenkuns as hulle grafies neem terwyl goeie tekenwerk met komplekse kleurgebruik geïntegreer word in skilderkuns.
Hoewel gemengde media ’n groot verskeidenheid kunsprosesse kan insluit – van driedimensionele werk tot animasie en fotografie – maak teken ook ’n belangrike deel uit van hierdie vak in die beplanningsfases.
Die kunssentrum beplan ’n ope dag op 29 September wanneer voornemende kunsleerders en hul ouers deur die kunssentrum kan toer, ateljees besigtig, onderwysers ontmoet en selfs klein projekkies aanpak om nader kennis met die vereistes van praktiese dissiplines te maak.
Die kunssentrum begin ook in 2021 met ’n nuwe vak, algemene kuns, vir graad 9-leerders (wat tans in graad 8 is). Vir hierdie vak hoef geen tekentoets afgelê te word nie.
Vir nog inligting, bel Ronel Hendricks by die Jack Meyer-kunssentrum by 021 872 2095 vir afsprake oor die tekentoetse of die ope dag.