Podiumpret is ’n omvangryke kultuurgebeurtenis in ’n trant wat die Paarl lanklaas beleef het.
Hierdie nasionale redenaarskompetisie se uitdunne is die afgelope vier maande in alle uithoeke van die land gehou.
Altesaam 180 deelnemers en hul ouers kom van vyf provinsies in die Paarl aan.
Altesaam 44 skole sal by die geleentheid verteenwoordig word.
Die 210 items waaraan leerders sal deelneem, sluit in om voor te lees, verskillende toesprake te lewer en standpunte te stel totdat almal rede verstaan.
Die jongste deelnemer is maar ses jaar oud en is nog nie eens in die laerskool nie.
Die uitvoerende burgemeester van die Paarl, raadslid Conrad Poole, open die geleentheid Saterdag 15 September 08:00 in die Hoërskool Gimnasium Paarl se ouditorium.
Daarna begin die tonge klap en is die ore gespits om die beste redenaars aan te wys.
Benewens die sertifikate en pryse wat deelnemers ontvang, is etlike honderde boekpryse op die spel. Deelnemers is dus nie net seker van die pret wat hulle gaan ervaar nie, maar sal ook nie met leë hande terugkeer huis toe nie.
Saterdagaand gaan die pret voort. Die Taalmonument is die gasheer vir ’n informele geleentheid waar die deelnemers, beoordelaars en organiseerders die kans sal hê om mekaar beter leer ken.
Sondagoggend (16 September) word die verrigtinge om 9:30 met ’n kerkdiens in die Gereformeerde kerk, Paarl (Stirlingstraat) afgesluit. Elke deelnemer en luisteraar is welkom.
. Bel Carolina van der Westhuizen by 083 415 9083 vir navrae.