Wellington se strate is stil en weerspieël die Vrydag-rustigheid nadat studente van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) verplig is om hul tasse te pak en terug te keer huis toe.
Lauren Kansley, KSUT se woordvoerder, sê die besluit het gevolg ná voortgesette gewelddadige ontwrigtings waar geboue afgebrand is en institusionele infrastruktuur moedswillig gevandaliseer is.
Dít het uiteraard die KSUT-universiteitsbestuur “genoop om die sluiting van alle kampusse vir ‘n onbepaalde tyd aan te kondig[…] Alle koshuise moet teen Vrydag 12 Mei 2023 om 16:00 ontruim wees,” het Kansley gesê.
Kansley het beklemtoon dit is as gevolg van “onbeheerste studente, wat in slegte trou optree, met die uitsluitlike doel om die universiteit “wanfunksioneel” te maak, dat die bestuur met geen ander keuse gelaat is as om vinnig en beslissend op te tree nie.
“Die veiligheid van personeel en studente is ons primêre bekommernis op hierdie tydstip.”
Dit beteken alle bedrywighede, insluitend alle akademiese aktiwiteite, is summier gestaak.
Vervoer na sleutelareas vir studente wat in ander provinsies woon, word deur die universiteit verskaf. Dit beteken uiteraard dat die universiteit se beplande opedag, wat vir Saterdag (13 Mei) geskeduleer is, afgelas is.
Daarmee het Kansley die universiteit se kommentaar teenoor die afgelope week se protesaksie, waarby voorvalle van opsetlike saakbeskadiging aan KSUT-eiendom en bates ondersoek word, uitgespreek:
“Die KSUT-bestuur sal nie die wetteloosheid en chaotiese protestonele deur ’n gepeupel, wat nie daarin belangstel om in goeder trou te onderhandel, duld nie. Dié beslissende optrede wat geneem is om kampusse te sluit en om koshuise te ontruim, is ’n bewys hiervan. Die veiligheid van ons gewaardeerde personeel en studente is ons topprioriteit.”
Die stasiebevelvoerder van die Wellington-polisie, kol. Johan Barkhuizen, sê klagtes van brandstigting en opsetlike saakbeskadiging word ondersoek.
Hy bevestig verdere brandstigting binne een van KSUT se kampuskoshuise het Woensdagnag plaasgevind.
“Van die studente het glo toiletpapier in ’n klerekas in een van die koshuise aan die brand gesteek. Al skade wat opsigtelik is, is brandskade aan die kas wat aan die brand gesteek is.”
Barkhuizen is verlig dat reg en orde in die dorp se strate herstel is.
Paarl Post het met minstens tien KSUT-studente in die strate reg oorkant die kampusuitbreiding in Malherbe- en Kerkstraat gesels. Elkeen van diegene is teleurgestel dat hul akademiese jaar as gevolg van die geweld tot stilstand gebring is, en hulle is bekommerd oor wat dit vir komende toetsreekse en eksamens sal beteken.
“Ons weet nie of ons nou alles betyds opgevang gaan kry en of die vertragings tot volgende jaar sal duur nie. Wat beteken dit dan nou vir die vordering met ons vakke en krediete? Hoe gaan ons take indien en eksamens skryf?” lui sommiges se bekommernisse.
Kansley het die versekering gegee dat die KSUT ’n hibriede, multimedia-benadering het om hul sogenaamde akademiese projek te lewer.
“Op die oomblik het ons opgehou leer, maar dit is hanteerbaar aangesien ons op koers is ná die universiteit se bloktyd, wat volgende week is, voordat studente eksamen aflê. Danksy die pandemie is ons goed vertroud met die maklike migrasie na aanlyn.”
Hierdie is ’n ontwikkelende nuusstorie. Hou volgende week se uitgawe van Paarl Post dop vir meer.