Die gejaag van die lewe kan soms te veel raak vir ’n mens se geestesgesondheid, maar hulpbronne is vir inwoners by plaaslike klinieke en die Paarl-hospitaal beskikbaar. Die klem val veral op dienste te midde van geestesgesondheidsbewusmakings­maand, wat in Oktober gevier word.

Sandra Maritz, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse gesondheids- en welstanddepartement in die Kaapse Wynland, sê dit is baie belangrik dat ’n mens na jou gesondheid en geestesgesondheid in die geheel omsien. Sy voeg by die departement moedig mense aan om uit te reik vir hulp wanneer hulle:. baie af voel vir meer as twee weke, sonder dat daar ’n spesifieke gebeurtenis was;. aansienlik meer of minder slaap as voorheen óf aansienlik meer of minder eet as gewoonlik;. belangstelling verloor het in aktiwiteite wat hulle altyd geniet het, of hulle aan sosiale byeenkomste onttrek;. gedagtes het oor selfdood, of as jy jouself in gevaar stel deur gedrag soos om waaghalsig te wees of onder die invloed te bestuur.

“As jy bekommerd is oor jou geestesgesondheid, moet jy asseblief na jou naaste kliniek gaan. Pasiënte wat nie lid van ’n siekefonds is nie, kry gratis ondersteuning, terwyl diegene wat wel lid van ’n siekefonds is, ’n geringe fooi betaal.

“Ons klinieke het multi-dissiplinêre spanne wat jou graag wil ondersteun.

“Wanneer iemand na ’n gesondheidsfasiliteit kom, doen personeel waarnemings om te bepaal hoe dringend die persoon hulp benodig.

“Na gelang van jou unieke situasie sal jy deur ’n verpleegkundige ondersoek of verwys word na ’n kenner soos ’n maatskaplike werker, ’n verpleegkundige wat spesialiseer in geestesgesondheid, ensovoorts. Indien nodig kan jy na ’n hospitaal verwys word,” verduidelik Maritz.

Die departement moedig mense aan om proaktief op te tree wanneer dit by die welstand van hul geestesgesondheid kom. Volgens Maritz help dit om aktief te bly sodat ’n mense se liggaam “goedvoel-hormone” vrystel en jy spanning op so ’n manier teenwerk.

Nog ’n wenk oor hoe om jou geestesgesondheid te beskerm is om altyd by te bly by die behandelingsplan wat deur jou gesondheidswerker aanbeveel is, jou medikasie te gebruik en afsprake na te kom. Wat ook help, volgens Maritz, is om te ontlaai deur te praat met mense wat jy vertrou, seker te maak dat jou dieet ’n verskeidenheid voedselsoorte insluit, en dat jy alkohol en dwelms vermy.

Mense kan ook na hulplyne uitreik indien hulle nog nie gereed is vir die kliniek of hospitaal nie.

Hulplyne sluit in die Suid-Afrikaanse angs- en depressiegroep en kan gekontak word by 0800 567 567, en Childline by 116.

You need to be Logged In to leave a comment.