Groot opwinding heers aan die vooraand van die Wellingtonse krisante-vereniging se 103de skou wat Saterdag 4 Mei in die Wellington-stadsaal gehou word.

Die verdedigende kampioen, Michael le Cordeur Sr., die president van die vereniging, het verlede jaar vriend en vyand verras met die kampioenblom wat hy op 84-jarige ouderdom te midde van die uiterste droogte en met behulp van slegs reënwater wat hy opgevang het, gekweek het.

Klimaatsverandering en die gepaardgaande droogtes word ’n toenemende uitdaging waarmee kwekers worstel. Hy neem vanjaar weer deel en is vol vertroue dat een van sy blomme die knoop sal kan deurhak.

Die verwagting is dat Le Cordeur Sr. vanjaar uitgedaag sal word deur Japie Willemse, ook ’n voormalige kampioen, wat veral met sy Kinzann-blomme (ook ingevoer uit Japan) groot indruk maak.

’n Nuwigheid by vanjaar se skou is dat die Cyster-trofee die eerste keer uitgedeel word. Die trofee is geskenk deur Allister Cyster (ook ’n ywerige kweker) ter nagedagtenis aan sy pa, Freddie Cyster, wat tot sy dood die president was en vanjaar 100 jaar oud sou wees. Die trofee sal vir die beste Aristocrat-spinnekopblom – sy pa se lieflingblom – toegeken word.

Die eerste skou is op 26 April 1916 in die Pauw-gedenkskool gehou en sedertdien het die krisantekwekers hierdie tradisie laat voortleef deur die kuns van krisantekweek van geslag tot geslag oor te dra. Voorbeelde hiervan is Allister en Freddie Cyster, prof. Michael le Cordeur van die US wat die kuns by sy pa geleer het, en die skoolhoof Anthony Cavernelis, wat ook by sy pa, Eddie Cavernelis, geleer het.

Ander ywerige deelnemers is Martin Abrahams, Herman Bailey (voormalige burgermeester), Jeffrey Smith, Henry Poole, Clive Matthee, Boebie Small, Aubrey Minnaar en Johannes Morkel.

Die verrigtinge word Saterdag 13:00 deur die Wes-Kaapse minister van kuns en kultuur, Anroux Marais, geopen waarna dr. Judie Arnolds, ’n bekende tuinboukundige, die gehoor oor klimaatsverandering sal toespreek.

You need to be Logged In to leave a comment.