‘n Fees van skolekrieket vind die week plaas in die Paarl met die 2022 HJS Krieketfees.


Vanaf
7 tot 10 Januarie neem 42 skole krieketspanne aan die 2022 HJS Krieketfees
deel. Nie minder nie as 22 topskole in Suid-Afrika se o.19A en o.15A spanne sal
in aksie wees in die krieketfees. Ingesluit in die 22 skolespanne is twee
uitnodigingspanne, een van Kathu in die Noord-Kaap asook ‘n Boland
uitnodigingspan. 

 Vir die doel word 21 krieketvelde in die Boland en
omgewing ingespan om vir die vier dae van die fees die aksie te huisves. Sit
sal sorg vir meer as 80 wedstryde oor vier dae. 

Supersport Schools het onderneem om die meeste van
die o.19A wedstryde regstreeks te beeldsend. 

Volgens die organiseerder, Frans Cloete van HJS
Paarl, bied die krieketfees vir elke speler die geleentheid om sonder die druk
van ‘wen teen alle koste’ vir vier dae al die vorme van skolekrieket te geniet
in die pragtige Boland. Die afrigters en spanbestuur word ook oor die vier dae
ordentlik onthaal op tipiese Bolandse gasvryheid. HJS se skoolhoof, mnr Derek
Swart, het bygevoeg ” ‘n besondere welkom aan alle spelers en
personeel wat deelneem aan die HJS Krieketfees. Ons betuig ons diepe dankbaarheid
teenoor ons Hemelse Vader vir hierdie talentvolle jong manne en vir die
pragtige omgewing waar ons ons sport kan beoefen.”

Die fees skop af met ‘n funksie Donderdagaand vir al
die afrigters en personeel by HJS se sportgronde, Buco Brugstraat. Al die
inligting rakende wedstrydbepalings, uitslae, spanne en die Supersport Schools
skedule kan op die HJS Krieketfees Facebook bladsy gevolg word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article