Die Drakenstein-krematorium is vir die soveelste keer hierdie jaar in die kollig nadat die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) sy bedrywighede onlangs weer eens opgeskort het.
Dit volg nadat die krematorium nie voldoen het aan die jongste vereistes van die KWDM se lugvrystellingslisensie nie, sê Seraj Johaar, Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste.
Jo-Anne Otto, woordvoerder van die KWDM, het die tydelike sluiting van die krematorium bevestig.
“Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) se munisipale gesondheidsdienste kan bevestig dat die Drakenstein-krematorium versoek is om alle verassingsbedrywighede te staak om nakoming van die vereistes ingevolge hul atmosferiese-uitlaat-lisensie onder die Wet op Lugkwaliteit te verseker. Drakenstein-krematorium het gehoor gegee aan die versoek.”
Inwoners kla al sedert die begin van die jaar oor ’n slegte reuk wat oor die Paarl en Wellington hang. In Februarie vanjaar het beide die Drakenstein-munisipaliteit en die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit bevestig die oorsprong van die stink reuk is ’n smeulende brand by die vuilwaterdamme by die Wellington-afvalwatersuiweringsaanleg.
In April het Louis Pienaar, Drakenstein-munisipaliteit se waarnemende uitvoerende direkteur van ingenieursdienste, gesê “die reuk wat in die Drommedaris- en Groenheuwel- gebiede ervaar word, word veroorsaak deur operasionele uitdagings wat die munisipaliteit se Paarl-afvalwatersuiweringsaanleg in die gesig staar as gevolg van voortdurende hoë vlakke van Eskom-beurtkrag”.
Paarl Post het die krematorium genader oor die uitstaande vereistes wat hulle so gou as moontlik by die fasiliteit moet aanbring.
Johann van der Merwe, eienaar van die krematorium, sê die probleem is nie so ernstig soos wat dit klink nie. Hulle het egter net die toets gedop omdat die oond koolstofmonoksied, ’n gevaarlike gas wat reukloos is, uitlaat in plaas van koolstofdioksied. Die krematorium is egter besig om die nodige veranderings aan te bring.
“Hulle sê ons nuwe oond wat vroeër hierdie jaar gebou is, is te vinnig gedoen. Ons meng ons gasse en op die oomblik gaan dit te vinnig uit by die uitlaatpyp, nog voordat dit gemeng het. So, die koolstofmonoksied moet meng met suurstof om koolstofdioksied te vorm wat onskadelik is. En op die oomblik kry die skadelike gas nie kans om te bind met ’n suurstofmolekule nie.
“Ons jaag ons gasse te vinnig uit. Daar is drie verbranders in die oond en ons het nou die onderste een uitgehaal sodat die gasse stadiger kan uitgaan. En as dit stadiger uitgaan, dan bind die koolstofmonoksied en ’n suurstofmolekule en dan is dit onskadelik.”
Johaar het verder bygevoeg dat die KWDM in gesprek is met die krematorium om te werk aan die nakoming van sy lugvrystellingslisensie.
Alle verassings is intussen by die fasiliteit gestaak en word verwys na ander fasiliteite.
. The Drakenstein Crematorium had to temporarily stop their operations once again.





