’n Probleem wat elke STS- voorafbetaalde elektrisiteitsmeter in die wêreld raak, sal hulle almal op 24 November 2024 keer om elektrisiteit te verkoop, tensy hulle vroegtydig opgedateer is.
Dit is as gevolg van hoe die stelsel wat gebruik word om voorafbetaalde elektrisiteitsbewyskodes te genereer en teen bedrog te beskerm, ontwerp is. Dit maak staat op ’n tydhouer wat van 1 Januarie 1993 begin tel het en op 24 November 2024 “sonder syfers” sal raak. Huishoudings sal óf van voorafbetaalde elektrisiteit moet oorskakel óf in die donker gelaat word – tensy plaaslike owerhede ingryp.
En natuurlik laat hierdie probleem munisipaliteite met hul hande in die hare weens derduisende inwoners wat afhanklik is van voorafbetaalde elektrisiteitsmeters.
Drakenstein-munisipaliteit se diensverskaffer, ONTEC, is tans besig met ’n TID (token identifier)-proses en het reeds 38 288 (93,3%) van die 40 789 aktiewe meters in Drakenstein geoudit.
ONTEC is besig om die oorblywende 2 501 meters te identifiseer vir ouditdoeleindes, waarvoor die sperdatum vir afhandeling 31 Augustus vanjaar is.
Daar is ongelukkig talle huishoudings wat die veldwerkers toegang tot hul persele geweier het, en wat wel voor November 2024 geoudit sal moet word om te verseker dat daardie huishoudings wel elektrisiteit ná November 2024 sal kan koop.
Tydens die ouditproses word die meter se key revision vanaf ’n een na ’n twee oorgeskakel, wat dan die TID-proses voltooi.
Die key revision van alle nuwe meters wat tydens die afgelope 18 maande geïnstalleer is, is reeds verander.