Die Suid-Afrikaanse ouditreus KPMG, wat ’n paar jaar gelede diep gewikkel was in die staatskaping-sage en omstrede Gupta-familie, is aangestel om oor die volgende drie jaar die Drakenstein-munisipaliteit se telefoniese en digitale lyne waar bedrog en klagtes aangemeld kan word, te bedryf.
’n Soortgelyke klagtelyn is al die afgelope 12 jaar in werking, en die besluit om die bestuur daarvan nou by KPMG te laat berus, is om konflik van belange te voorkom deur ’n onafhanklike eksterne firma aan te stel, sê Seraj Johaar, die Drakenstein se uitvoerende direkteur van korporatiewe sake en beplanning.
Hy het vandeesweek aan Paarl Post gesê KPMG se diensooreenkoms het reeds op 1 Julie in werking getree.
KPMG sal die klagtelyn tot Junie 2027 bedryf.
Volgens Johaar is die totale gekontrakteerde waarde van die tender R144 900 vir die drie jaar.
“Die rol van die diensverskaffer is om die munisipaliteit te voorsien van ’n klagte-telefoondiens 24 uur per dag vir sewe dae per week deur ’n volledig onafhanklike bedrogklagte-diens.
“Die idee is om bewerings en vermoede van oneerlike en onetiese gedrag aan die lig te bring, te bestry en te voorkom.
“Hulle moet alle gevalle wat by hulle aangemeld word, hersien om te verseker dat slegs dié wat relevant is tot die munisipaliteit, binne 24 uur ná ontvangs aangestuur word, met duidelike aanduidings van die aard van die voorval.
“Die gevalle sal dan aangestuur word na die stadsbestuurder, hoofrisiko-beampte en forensiese ondersoeker. Dit is belangrik om daarop te let dat KPMG nie verantwoordelik sal wees vir die ondersoek van enige aantygings nie,” het Johaar verduidelik.
“Alle raadslede, werknemers, belanghebbendes, diensverskaffers en belastingbetalers word aangemoedig om enige redelike vermoedens, aantygings of voorvalle van bedrog by die munisipaliteit aan te meld, ongeag die bedrag wat betrokke is.
“Wanneer hierdie verslae ingedien word, sluit asseblief soveel besonderhede as moontlik in om te help met die ondersoek,” het Johaar benadruk.
Hy het gesê ondanks KPMG se beweerde betrokkenheid by staatskaping, het die munisipaliteit noukeurig gewerk deur al die aansoeke vir die tender en dat KPMG aan al die voorvereistes voldoen het.
“Die tenderdokument wat die vereistes, spesifikasies en evaluasie-kriteria uiteensit, is geadverteer, wat potensiële verskaffers genooi het om aanbiedinge in te dien.
“Ná ’n deeglike assessering is alle tenderaars wat aan die gestelde kriteria voldoen, gekies, en die kontrakte is toe geëvalueer op grond van koste.
“In hierdie geval is dit toegeken aan KPMG, aangesien hulle die beste geslaag het op koste.
“Hulle is gekeur en geen verbod op handel is teen hulle gemaak nie, wat hulle toelaat om voort te gaan met sake met staatsinstellings.”
KPMG het in 2017 van een skande na die ander gespring. Een daarvan was toe hy konsultasie- sowel as ouditwerk vir die omstrede Gupta-familie gedoen het.
Hy het homself in daardie stadium egter verdedig en gesê daar was geen onwettige optrede aan sy kant in die werk wat hy vir die Gupta-familie gedoen het nie, maar dat hierdie familie en hul ondernemings hom in sekere gevalle om die bos gelei het.