Noodvoertuie geparkeer in Lover’s Lane in Paarl-Oos. Foto: Drakenstein Farm Watch/ Facebook


Die nuutste slagoffer van die ysige winter wat tans in die Drakenstein woed, is die 47-jarige Rachel Ruiters van Lover’s Lane in Paarl-Oos, wat Maandag in haar bed gesterf het en deur haar 16-jarige dogter aangetref is.

Ruiters het saam met haar man en twee kinders, ’n 16-jarige dogter en ’n 14-jarige seun, gewoon.

Kapt. Basil Seekoei, ’n woordvoerder van die Paarl-Oos-polisie, het die voorval bevestig.

Volgens Daan van Leeuwen Boomkamp, die bevelvoerder van die Drakenstein- plaaswag (DFW), is ’n inspekteur van die plaaswag deur die gemeenskap ontbied omdat die polisie nie bereik kon word nie.

Met die aankoms van die DFW, wat deur ADT vergesel is, was Ruiters reeds oorlede en moes die plaaswag ’n hartseer dogter probeer troos.

Volgens Van Leeuwen Boomkamp is die presiese oorsaak van haar dood nog onbekend, maar dit blyk die koue is ’n definitiewe bydraende faktor omdat die ma reeds siek was en in baie nat en koue omstandighede moes leef.

Alles was klam. Die komberse waaronder [Ruiters] gelê het was nat en daar was ook geen toilet nie.
Daan van Leeuwen Boomkamp

Die Paarl-Oos-polisie het gesê die oorledene het weens natuurlike oorsake gesterf, maar nie verder uitgebrei nie.

“Alles was klam. Die komberse waaronder [Ruiters] gelê het was nat en daar was ook geen toilet nie.”

Volgens Van Leeuwen Boomkamp kan ’n reeds siek mens longontsteking in dié omstandighede ontwikkel en indien behoorlike mediese sorg nie toegepas word nie, kan só iemand moontlik sterf.

Volgens Van Leeuwen Boomkamp is dié voorval een van minstens drie wat die DFW gedurende vanjaar se winter aanskou het, met meestal bejaardes wat gesterf het.

“Die dogter [van Ruiters] het toe haar ma gesien wat op die bed lê. Sy het die polisie en ambulans probeer bel, maar nie deurgekom nie, waarna sy met die hulp van ander mense die DFW gekontak het.”

Van Leeuwen Boomkamp het verduidelik dat die DFW met hul aankoms die onderneming gebel het waar die man en pa werk om hom in kennis te stel dat sy vrou gesterf het.

“Die onderneming het toe gesê hulle sal kyk of hulle hom [die man] huis toe kan stuur,” het Van Leeuwen Boomkamp geskok vertel.

Hierdie voorval het net weer bewys dat daar geen deernis in die samelewing is nie.
Daan van Leeuwen Boomkamp

“Hierdie voorval het net weer bewys dat daar geen deernis in die samelewing is nie.”

Volgens hom het die man nadat hy eers ure later van die werk af tuisgekom het, die skokkende nuus ontvang waar hy sy twee hartseer kinders aangetref het.

Volgens Van Leeuwen Boomkamp het die nooddienste in Lover’s Lane opgedaag reeds nadat die plaaswag weg was.

Hy het aangevoer dat dit al hoe moeiliker vir die gemeenskap asook die DFW raak om die Paarl-Oos-polisie te kontak.

Volgens Seekoei is die feit dat die telefoonlyne beset was, aangemeld.

You need to be Logged In to leave a comment.