Korrektiewe Dienste vat hande vir 16-dae-veldtog

Die jaarlikse veldtog vir 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders duur vanjaar van 25 November tot 10 Desember.


Die jaarlikse veldtog vir 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders duur vanjaar van 25 November tot 10 Desember.

Die departement van korrektiewe dienste (DKD), tesame met verskeie rolspelers in uniform, het hulle Sondag 26 November opnuut verbind teen geweld teen vroue en kinders by die Breaktru-gemeenskapskerk, Wellington, onder leiding van pastoor Eben Mourries, ’n kapelaan in die DKD in die Drakenstein-bestuursarea, met die tema “Tel my in: saam vat ons hande, want die lewe is kosbaar”.

Die dankseggingsdiens was ook om erkenning te gee aan lede in uniform – onder wie die SAPD, mediese nood­dienste, weermag, lugmag, verpleeg­sters, wetstoepassers, brandbestryders en sekerheidsbeamptes – se diens die afgelope jaar en spesifiek hul geestelike voorbereiding vir die feesgety wat kenmerkend is aan gesinsgeweld, botsings en onnodige sterftes.

“Ons kry in hierdie 16 dae van aktivisme kans om saam met alle rolspelers te reflekteer om geweld teen vroue en kinders in die lang termyn aan te pak,” het direkteur Jeremy Matheyse, die areakommissaris verbonde aan die DKD in die Drakenstein-bestuursomgewing, gesê.

“Die DKD probeer deur sy rehabilitasieprogramme en vennootskappe met ander rolspelers om gevangenes te rehabiliteer en suksesvol in die gemeenskap te herintegreer.”

Die Athlone House of Strength (AHOS) onder die bestuur van Sharon Blakenberg is ’n produk van talentvolle en kreatiewe gevangenes wat die sentrum gebou het waar vroue wat onder gesinsgeweld en mishandeling gely het, ’n veilige hawe kan kry.

“Wees die beste in dit wat julle vir ons doen en moenie moeg raak om goed te doen om jul besondere roeping daagliks uit te leef nie,” was die motivering van Conrad Poole, die Drakenstein-munisipaliteit se burgemeester.

Die Drakenstein-munisipaliteit se voormalige verkeershoof, Francois Davids, wat nou adjunkpresident van die Suid-Afrikaanse Rubyunie (Saru) is, het lede in uniform opgeroep “om toegewyd te wees in hul uitdagende taak, gewapen met die regte gesindheid om dienste te lewer waar dit broodnodig is.”

Die president van die Westelike Provinsie se rugbyunie (WPRU), Thelo Wakefield, het gesê: “Julle het ’n bonatuurlike omgee ten spyte van kritiek en deesdae selfs aanslae op jul lewe in die uitvoering van jul pligte, maar wees lojaal en toegewyd in jul roeping.”

Wakefield vertel: “2017 was vir my inderdaad die mees uitdagende jaar as president van Saru, maar ek fokus op die suksesse van 2017 sodat ons almal 2018 kan ingaan met hoop, geloof en moed. Ek wens julle alle sterkte toe in jul werk in die naderende feesgety en weet dat julle in my gebede is.”

Blakenberg, ’n voormalige lid in die SAPD en nuutaangestelde bestuurder by AHOS agter die TC Newman-hospitaal in Paarl-Oos, sê hulle streef daarna om mishandelde vroue se vrouwees en gees te herstel.

In haar boodskap by die Breaktru-gemeenskapskerk het Blakenberg kortliks verwys na die verlengde vonnis van die lemnaeler Oscar Pistorius weens die moord op Reeva Steenkamp en die onlangse lewenslange vonnis van Christopher Panayiotou weens die huurmoord op sy vrou.

“Dit is vroue se stem uit die graf teen geweld,” het Blakenberg gesê.

Pastoor Eben Mourries, ’n leraar verbonde aan die Breaktru-gemeenskapskerk en adjunkdirekteur verbonde aan kapelaandienste by DKD Drakenstein, het sy boodskap in ’n volgepakte kerk gebring uit Mattheus 22 vers 36-40: “Handhaaf God se grootste gebod uit die wet en weerspieël liefde teenoor mekaar.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.