“Consider kindness before you speak,” is die sentrale boodskap waarmee Skyler Erasmus die hele korona-pandemie aanpak.
Dit was by ’n virtuele saalbyeenkoms dat dié graad 5-leerder aan Laer Meisieskool La Rochelle die inspirasie gekry het om ’n dankbaarheidsketting te maak.
Die skoolhoof, Lientjie Olivier, het die gedagte van ’n gratitude chain by die meisies tuisgebring.
Skyler het huis toe gegaan en die daad by die woord gevoeg. Elke dag het sy dit waarvoor sy dankbaar is netjies op ’n stukkie karton geskryf en aan die vorige dag s’n vasgesit. Stadig maar seker het haar ketting vorm aangeneem en vandag is dit ’n kleurryke string van dankbare boodskappe.
Wat leer Skyler hieruit?
“Ek is baie positief en het besef hoe baie ons het om elke dag voor dankbaar te wees,” sê sy. Dit mag miskien ’n eenvoudige oefening wees, maar dit het ’n groot impak op Skyler en haar gesin se uitkyk op die lewe gemaak.