Chantélle Hartebeest
Die nuutste televisiereeks Die Nuusmakers neem kykers op ‘n reis oor hoe dit is om ‘n joernalis te wees.
Die aangrypende reeks verskyn op KykNet (DStv-kanaal 144) en het op 27 Mei begin. Roland Marais, ‘n boorling van Wellington, vertolk die hoofrol van Adri Joubert, wat al vir twee dekades die aandnuus gelees het. Haar lewe verander handomkeer toe haar man vermoor word en haar lewe op die ou end die onderwerp word van die nuus. Dit gebeur alles te midde ‘n nasionale krisis wat die land ruk. In ‘n oogwink is die lewe nie meer dieselfde vir Joubert.
Karen Jeynes, van Both Worlds produksie maatskappy wat die reeks vervaardig het, sê: “In ’n era van fopnuus en diepvervalsings, vra Die Nuusmakers wie ons vertrou – en waarom. Adri Joubert verteenwoordig ’n generasie nuuslesers wat soos familielede in Suid-Afrikaanse huise geword het, en haar reis weerspieël ons gesamentlike stryd om by veranderende realiteite aan te pas”.
Marais sê met die vervaardiging van die reeks was daar ‘n tawwe verfilmingskedule, maar nadat sy die eindproduk gesien het, het sy geweet dit was die moeite werd.
“Ons skiet uit kontinuïteit uit so mens moet baie goed kop hou waar die karakter se emosionele vlak lê. Ek het besef hoe baie joernaliste prysgee om hulle werk met integriteit te doen. Familie byeenkomste, soms vriendskappe, verhoudings en laat nagte op kantoor. As daar ‘n brandende passie binne jou leef, moet jy daarop antwoord en joernaliste sal selfs hul eie lewens in gevaar stel om agter die kap van die byl te kom. Ek het baie respek daarvoor ontwikkel tydens die skiet van hierdie reeks.”
Marais voeg by: “Die boodskap wat ek wegneem van hierdie reeks is dat mens altyd kan kies om die waarheid te volg. Dis nie altyd maklik nie, maar dit is beslis meer belonend op die ou einde. Kyk, daar is mos maar altyd twee kante van n storie en soms kies joernaliste die meer onsmaaklike kant want dit lok meer kyker/lesers”.
Die Nuusmakers kan elke Dinsdag om 20:00 gekyk word op KykNet (DStv-kanaal 144).