Die vierde jaarlikse Strides for Africa Walkathon van die World Fair Trade-organisasie (WTFO – Afrika en die Midde-Ooste) in samewerking met die Drakenstein-munisipaliteit, is Saterdag gehou en was een groot jol.
Meer as 500 inskrywings is ontvang en die stappers het in ’n feestelike atmosfeer die Paarl-arboretum en die omliggende gebied met hul amptelike Walkathon T-hemde rooi “geverf”. Mense van alle vlakke van die samelewing het aan die pretstap oor 5,2 km deelgeneem. Sommige het ook ’n viervoet-vriend saamgebring.
Die doel van die Walkathon was om verbruikers se aandag op die ondersteuning van plaaslike, volhoubare ondernemings en eties-geproduseerde produkte te vestig.
Musa Mpofu van die WFTO was in haar skik met die ondersteuning van die mense van Drakenstein. “Die getal inskrywings was ’n groot verbetering op verlede jaar. Dit was regtig lekker om te sien hoe oud en jonk entoesiasties aan die Walkathon deelneem. Dankie aan die mense van die Paarl. Van hier af kan ons die Walkathon net groter en beter maak.”
’n Aantal mense het ook die Arboretum met ’n stywer beursie as voordat hulle begin stap het, verlaat. Die span van die Laerskool Charleston Hill het vir sy skool ’n stewige R3 000 verdien deurdat hulle as die “span met die meeste gees” aangewys is.
Die skool is een van die WFTO se “groenskole” en sy onderwyser Patrolene Conradie is ook ’n ambassadeur van die WFTO. Sy was opgewonde oor die Walkathon en die prysgeld. “Die Walkathon was ’n ongelooflike ervaring vir die groenspan.
“Ons noem onsself die Chippies Green Team en ons doel is om bewusmaking te skep in die Paarlse gemeenskap oor die belangrikheid van die ondersteuning van fair trade practices en die koop van plaaslik vervaardigde produkte.
“Dit was inspirerend om die gemeenskap se deelname en betrokkenheid te sien terwyl ons gestap het met die duidelike doelwit om die aandag te op die belangrikheid van etiese sakepraktyke en volhoubare verbruik vestig.
“Om die prysgeld van R3 000 te wen, is net ’n oomblik van pure genot en bevestiging vir al ons harde werk en toewyding oor die jare.
“Dit het egter nie net oor die wen van die prys gegaan nie; dit was ook oor die erkenning van ons poging om ’n verskil te maak.
“Die energie van die span was elektries en hierdie prestasie motiveer ons om voort te gaan met ons missie om ’n positiewe uitwerking op ons gemeenskap en die omgewing te hê.”. Vier ander stappers het elk met R500 weggestap en nog een het ’n geskenkbewys van E-Zee Bikes gewen.