Kontantpryse op die spel vir leerders

Kan jy met woorde goël, sinne optower en oorspronklike gedagtes aanmekaar timmer?.


Kan jy met woorde goël, sinne optower en oorspronklike gedagtes aanmekaar timmer?

Dan is die agste Skerpskryf in Afrikaans, ’n skeppendeskryfkompetisie vir graad 7-, 10-, 11- en 12-leerders van Drakenstein, die perfekte plan vir maklike kontant in die hand.

Inskrywings is boonop gratis.

Die kompetisie word aangebied deur die Hugenote Gedenkskool in Dal Josafat in samewerking met die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in die Paarl. In 1883 was die gedenkskool die eerste skool in Suid-Afrika waar Afrikaans amptelik as onderrigmedium aangewend is.

Deelname is maklik en tot voordeel van elke leerder wat in Afrikaans skryf. Dit sal boonop help om belowende jong skrywers te identifiseer. Die finaliste en hul onderwysers sal genooi word na ’n prysoorhandiging by die Hugenote Gedenkskool. Hier sal hulle ook deelneem aan ’n werksessie met bekende skrywers, joernaliste en blogskrywers oor die vele aspekte van skryf in Afrikaans.

Daar is twee kategorieë: graad 10-, 11- en 12-leerders moet ’n opstel van tussen 250 en 300 woorde skryf oor die volgende onderwerp: Wil jy graag in Afrikaans of Engels of in een van die ander landstale skoolgaan en hoekom? Graad 7-leerders moet ’n opstel van 200 woorde oor dieselfde kwessie skryf.

Leerders én skole kan ’n hele paar pryse wen. Die algehele hoërskoolwenner kry R1 000 kontant asook ’n R1 000-koopbewys vir Afrikaanse boeke. Die twee wenners in die afdelings skeppend en taalkundig kry elk R500 kontant, asook ’n R500-koopbewys vir Afrikaanse boeke.

Die algehele laerskoolwenner kry R500 en die eerste twee naaswenners onder­skeidelik R300 en R200 elk. Al drie wen ook ’n boekprys. Die ses wenners se skole ontvang ook elk ’n koopbewys vir R500 vir Afrikaanse boeke. Die persoon wat die weninskrywing aangemoedig het, sowel as die onderwyser wat die meeste inskrywings instuur, ontvang elkeen R500.

Leerders kan by hul Afrikaansonder­wy­ser uitvind hoe om in te skryf. Wenners van die vorige jare kan weer inskryf, maar sal nie in aanmerking kom vir pryse nie.

Inskrywings moet teen 28 Julie by Verinque Hendriks by die Taalmuseum by Pastorielaan 11, Paarl, ingedien word.

Vir navrae en elektroniese inskrywings kan belangstellendes haar by 021 872 3441 bel of stuur ’n e-pos na vakkundige@taalmuseum.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.