’n Ondersoek is gelas deur die Onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) nadat ’n polisiebeampte wat nie aan diens was nie, na bewering Saterdagaand (9 Desember) ’n 28-jarige man doodgeskiet het in Paarl-Oos.
Volgens Bazil Jacobs, ’n lid van die opposisie party Concerned Drakenstein Residents (CDR), is Brandon Philander sowat agt meter weg van sy woning doodgeskiet in Simfonielaan, Groenheuwel. Jacobs is in noue verbintenis met Philander se familie en sê hy was ook op die toneel.
“Die slagoffer en die verdagte was in ’n struweling betrokke sowat 50 meter vanaf waar die slagoffer doodgeskiet is. Die verdagte het sy vuurwapen op Brandon gerig waarna die struweling plaasgevind het.
“Die polisiebeampte het die vuurwapen agter Brandon se kop gedruk en hom gedreig. Die verdagte se vriend het gesê hy moenie skiet nie en Brandon het toe probeer vlug, maar is twee keer getref.”
Die skietvoorval het omstreeks 21:50 gebeur ten aanskoue van talle inwoners. Dit is nog nie duidelik wat aanvanklik tot die stryery gelei het tussen Philander en die konstabel, wat gestasioneer is by die spesiale taakmag in Kaapstad nie.
Jacobs het ook die gerugte bevestig dat die konstabel die seun is van ’n voormalige CDR-lid wat reeds voor die 2021 verkiesing uit die party getree het.
Kapt Anthony Sauls, woordvoerder vir die Paarl-Oos polisie, het ook die voorval bevestig.
“Daar was na bewering ’n stryery tussen ’n polisieman en die slagoffer. Die slagoffer het glo by sy erf ingehardloop en hy het ’n graaf gekry en op die polisieman afgestorm en die polisieman het twee skote geskiet. Daar is ’n dossier oopgemaak en dit word ondersoek deur Opod.”
• Hierdie is ’n ontwikkelende storie.





