Die ACVV se Ondernemingsprojek is amptelik op KC Radio bekendgestel. Hier glimlag die baasbreine agter die deelnemende organisasies. Van links is Andile Human (KC Radio), Xander Janse van Rensburg (algemene bestuurder, Labit), Naushad Khan (algemene bestuurder, KC Radio) en Steven von Schlicht (ACVV Wellington).Foto: Verskaf


Is jy ’n gr. 9-leerder wat graag ’n verskil wil maak terwyl jy jou eie geldjie verdien, maar tog ook ’n hupstootjie benodig? Die ACVV Wellington, in samewerking met plaaslike organisasies, het ’n geleentheid vir jou!

Sewe gr. 9-leerders sal uit aansoeke van oor die vallei heen gekies word om aan hierdie eenmaal-in-’n-leeftyd kompetisie deel te neem. Die sewe finaliste sal uit ’n poel van 15 kwalifiserende aansoekers gekies word.

Beter bekend as die ACVV se Ondernemingsprojek, is dit ’n geleentheid vir Drakenstein se jeug “om hul eie entrepreneur­skap tot die toets te stel en sodoende die basies beginsels van ondernemings te bemeester,” sê die organisasie se Steven von Schlicht.

Deelnemende organisasies sluit in Labit, wat hulself as ’n besigheidsbroeikas beskryf wat “entrepreneurs bemagtig wat se besighede beide ’n ekonomiese sowel as ’n sosiale impak het”.

Die kompetisie sal tot einde Oktober duur, met insiggewende bystand om die bou van ondernemings te verstaan wat aan elke kandidaat deurgaans beskikbaar gestel sal word.

Wat moet jy doen om in te skryf?

1. Identifiseer ’n probleem / uitdaging / behoefte in jou omgewing.

2. Beplan hoe dit tot ’n besigheid kan lei.

3. Dié ondernemingprojek help jou om ’n oplossing te vind en sodoende geld te maak!

Hoe sal kandidate gehelp word?

Von Schlicht is opgewonde om te aan te kondig dat “beginkapitaal aan kwalifiserende kandidate voorgeskiet sal word”.

“Kandidate sal ook gratis opleiding in entrepreneurskap ontvang wat hulle sal bemagtig om ’n sakeplan vir hul onderneming op te stel, deurgaans tesame met die nodige begeleiding.”

Kandidate sal ook blootstelling op die plaaslike radiostasie, KC Radio, sowel as in gedrukte en digitale media ontvang, waaronder Paarl Post.

Wie kan deelneem?

Von Schlicht sê dat slegs kandidate wat tans in gr. 9 is, sal kwalifiseer.

“Jy moet uiteraard ook ’n selfoon met data besit en beskikbaar wees om met die ander ses deelnemers opleiding te ondergaan.

“Belowende kandidate sal oor die wil om ’n verandering te bring en suksesvol te wees moet beskik.”

Kwalifiserende kandidate sal ’n gretigheid hê om die verskil in hul omgewing te wil maak, ’n eie onderneming te begin en hul toekoms self te bepaal.

Aansoekers sal in motivering van een bladsy moet getuig van hul geesdrif en aspirasies vir hul toekoms as sakeman- of -vrou wat hul eie drome wil bewaarheid.

“Ons skep graag die geleenthede vir ons jeug wat kan bewys dat hulle toegewyd is om die wêreld ’n beter plek vir hulself en ander te maak,” sê Von Schlicht.

. Indien jy oor al dié kwaliteite beskik en wil deelneem, versoek ’n aansoekvorm deur ’n WhatsApp na 082 575 4628 te stuur, of e-pos well.admin@acvv.org.za

You need to be Logged In to leave a comment.