Só lyk die huidige planne vir die De Poort-ontwikkeling in Suider-Paarl.


Het die laaste seder vir die beplande historiese dorpie De Poort in Suider-Paarl geval ?

Hierdie vraag word nou gestel nadat planne reeds opgetrek is vir die ontwikkeling van die grond op die hoek van Turk- en Hoofstraat.

Dít volg ná jare se onmin oor hierdie projek, meer as 20 jaar nadat De Poort tot stand gekom het.

Die planne toon dat 120 wooneenhede beoog word, asook ’n winkelsentrum, aparte winkels en parkeerruimtes. Aan die Tabakstraat-grens van De Poort sal daar ook ’n langafstand-busterminus wees. Die museum word wel behou.

Hoewel die planne nog nie deur die Drakenstein-munisipaliteit goedgekeur is nie, sê ingeligtes dat dit net ’n kwessie van tyd is voordat die planne afgeteken word.

De Poort is in 2005 gebou met die hulp van ’n R2,3-miljoen-toekenning van die Nasionale Lotto Trust, sowel as finansiële ondersteuning van die Drakenstein-munisipaliteit om ’n wa- en-kar-museum, ’n koffiewinkel en restaurant en ’n inligtings- en onderrigsentrum op die munisipale terrein tussen Turk- en Pine-straat te vestig.

Dit sou fase een van ’n ontwikkeling gewees het wat gemik was op erfenistoerisme, met die doel om dit in ’n volskaalse historiese dorpie te bou en te ontwikkel.

Sedert die konstruksie egter voltooi is, is hierdie historie dorpie so te sê dood gebore.

Die ontwikkeling is ook geteister deur interne konflik tussen die De Poort-direkteure en die munisipaliteit, met die verhouding tussen die twee wat in ’n stadium so versuur het dat die munisipaliteit, waarop De Poort se grond is, die hekke na De Poort gesluit het.

Onderhandelinge het wel gevolg, wat tot die terrein se heropening gelei het. Weer eens het die ontwikkeling nooit van die grond af gekom om ’n lewensvatbare entiteit te word nie.

Nou lyk dit asof dit ’n uitgemaakte saak is dat De Poort as kommersiële entiteit ontwikkel gaan word.

De Poort word voorts aan ’n Stellenbosse ontwikkelingsmaatskappy verhuur vir slegs R31 587,50 per maand, BTW uitgesluit.

Jeraj Johaar van die Drakenstein-munisipaliteit sê die nodige aansoek vir die goedkeuring van die terrein-ontwikkelingsplan van De Poort in Suider-Paarl is nog nie by Drakenstein-munisipaliteit ingedien nie. “Sodra ons die aansoek ontvang, sal ’n uitgebreide openbaredeelnameproses volg.”

You need to be Logged In to leave a comment.