Almal is reeds gewoond aan minibus- taxi’s wat hoofroetes oorheers, maar nou raak dit al hoe meer ’n probleem met hierdie openbare vervoerdiens wat van die voorgeskrewe roetes afwyk – só erg dat dit nou ’n daaglikse verskynsel is om hulle heen en weer deur die dorp se woonbuurte te sien rits.
Hier kies hulle kortpad deur woonbuurte, asook om passasiers op en af te laai, wat volgens hul regulasies nie toegelaat word nie.
Woonbuurte soos Vrykyk loop ook veral hieronder deur juis weens hierdie woonbuurt se nabyheid aan beide die Bergrivier-boulevard en Paarl se Hoofstraat.
Inwoners is bekommerd oor die spoed waarteen taxi’s in woonbuurte ry, wat gewoonweg stil buurte is en waar kinders in die omgewing speel.
Daarby kom die feit dat hulle nie net onverskillig ry nie, maar aanhoudend toet en deurgaans raas.
Eda Barnard, die uitvoerende direkteur vir openbare veiligheid van die munisipaliteit, het gesê minibustaxi’s is deel van openbare vervoer wat deur die Wet op Nasionale Landvervoer gereguleer word.
“Hierdie wetgewing stipuleer taxi’s kan, as hulle van hul roetes afwyk, beboet en ook geskut word.”
Sy het gesê die munisipaliteit se verkeersafdeling voer daagliks wetstoepassing uit, fokus spesifiek op hierdie oortredings en neem aksie soos voorgeskryf in die genoemde wetgewing.


