Die leerders van New Orleans Primêr is ná amper drie maande nog nie terug by hul eie skool nie en ouers vrees dat dit ’n negatiewe uitwerking op hul kinders se jaareindeksamen sal hê.
Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het die skoolgebou van New Orleans Primêr in Augustus vanjaar onveilig verklaar. Leerders ontvang sedertdien onderrig by nabygeleë skole en word met busse, wat deur die departement gereël is, na dié skole vervoer. Onderwysers moet ook by die skole aanmeld. Die skole sluit in Amstelhof Primêr, Orleansvale Primêr en Nieuwedrift Primêr.
Bronagh Hammond, ’n woordvoerder vir die departement, het op ’n vorige geleentheid aan Paarl Post gesê die assessering oor die veiligheid van die skool moet nog bepaal presies hoeveel geboue in die gedrang is.
“New Orleans Primêr is ’n bestaande ‘plankie-skool’ en ons het strukturele kommer oor die dak. Ons het ook ’n inspeksie deur ’n goedgekeurde asbes-gesag versoek rakende die asbesbevattende materiaal op die dak. ’n ‘Plankie-skool’ is ’n skool wat tydens die apartheidsera met onvanpaste materiaal gebou is.”
’n Bekommerde ouer, wat nie by name genoem wil word nie, sê die WKOD hou hulle nie op hoogte van die herstelwerk aan die skoolgebou of hoe dit vorder nie. Die departement het wel aan die begin, toe die kinders moes skuif, gesê alles sal teen die begin van volgende jaar reg wees.
“(Die departement) kommunikeer nie met ons nie; selfs die hoof word nie oor die stand van sake ingelig nie. Die departement het onlangs ’n sessie met die ouers en ’n sielkundige gehou. Die spreker het met ons gesels en aan ons as ouers verduidelik verandering is nie maklik nie – veral nie vir kinders nie – en hoe ons hulle kan ondersteun,” sê die ouer.
“Wat vir my baie moeilik is, is dat my kind nou nie meer wil skool toe gaan nie, want sommige van die kinders by die skole wat ons kinders akkommodeer, is baie afknouerig teenoor New Orleans Primêr se leerders. Ek dra kennis van ’n geval waar die ander kinders in ons kinders se kos, wat hulle by die voedingskema ontvang, gespoeg het. Ek is besig om vir my kind solank plek by ’n ander skool te soek, maar tot dusver is dit nog nie suksesvol nie. Ek wil nie aanmekaar vir my kind sê dit gaan oukei wees en hy moet net deurdruk nie, want môre voel hy dalk hy kan nie sy gevoelens met my deel nie, want ek gaan nie baie ondersteunend wees nie.”
Paarl Post verneem die skool se beheerliggaam het Maandag (13 November) ’n dringende vergadering met die ouers gehad. Die uiteinde van die vergadering is egter onbekend.
Navrae is ook aan die departement gerig om te hoor wanneer die skoolgebou weer veilig sal wees sodat die leerders en personeel kan terugkeer.
“Sodra amptelike kommunikasie aan die beheerliggaam gestuur is, sal ons vorentoe oor die skool se infrastruktuurplan kan kommunikeer,” het Hammond op die koerant se navraag geantwoord.