’n Groeiende informele nedersetting buite Klapmuts oorkant die stortingsterrein en skuins oorkant die polisiekantoor is ’n groot kopseer vir die Stellenbosch-munisipaliteit vandat onwettige strukture daar opgerig is.
Volgens JC Anthony, Klapmuts se wyksraadslid, het die grond oorspronklik aan die Drakenstein-munisipaliteit behoort, maar dit is in Februarie 2022 aan die Stellenbosch-munisipaliteit oorgegee, waar die onwettige besetters reeds tóé al ’n probleem was.
Volgens Anthony is die Stellenbosch-munisipaliteit tans besig met ’n regsproses om die onwettige besetters te verwyder, maar dié proses sal nog lank duur.
Anthony het verduidelik die mense wat op die grond bly, kom van Kraaifontein, en ’n groot rede vir hul trek van Kaapstad na Klapmuts is om plek te kry om te boer.
Klapmuts-inwoners en motoriste sal gereeld ’n aantal bokke en beeste gewaar wat langs die Ou Paarlpad wei met ’n wagter aan hul sy.
Volgens Anthony behoort die vee aan van die onwettige besetters wat gedurende die dag hul diere op die grasveld langs die polisiekantoor laat wei.
Sowat 40 onwettige besetters is tans op die terrein, het Anthony telefonies aan Paarl Post gesê, en verduidelik dat wetstoepassers en ander veiligheids-instellings gereeld hul verskyning maak om te verseker dat nie nog strukture opgerig word nie. Volgens Athony is die grond nie gesoneer vir behuising nie en gaan dit as deel van ’n toekomstige ontwikkeling naby Klapmutskop gebruik word.
Paarl Post het reeds op 2 November na die Stellenbosch-munisipaliteit se kommunikasie-afdeling oor die aangeleentheid uitgereik, maar teen druktyd op 8 November nog geen terugvoering ontvang nie.


