Geniet ’n Iersebrede wanneer die Bokke die Iere Saterdag op die rugbyveld aanpak.


Vroeg vandeesweek al het die gemoedere begin hoogloop oor komende Saterdag se botsing op die rugbyveld tussen die Iere en Springbokke.

Na ’n paar onderonsies op en vanaf die veld in verlede jaar se Rugbywêreldbeker in Frankryk, word die twee spanne nou as aards vyande beskou.

Dus berei ek myself nou daarop om Saterdag voor die kaggel te sit en die Bokke luidkeels aan te juig, dít terwyl ek aan ’n stomende bak Iersebredie smul.

Nou nie gemaak met die vleis van ’n robuuste, Guinness drinkende Ier wat The Irish Rover in ’n kroeg uitbasuin nie, maar ’n pot vol winter gemaak met skaapvleis en wortel-groente, en vir ure op die stoof of oor die kole prut gemaak.

Iersebredie is ’n storie so oud soos die heuwels van Ierland self, en een wat die hart van die land se kookkuns uitbeeld. Dit is ’n eenvoudige maar klassieke gereg gemaak van hartlike bestanddele – skaapvleis (deesdae beesvleis ook), aartappels, uie, en wortels, alles vir ure saam geprut in ’n pot totdat die vleis sag is en die geure saamgesmelt het.

Die oorsprong van Iersebredie is ietwat in geheimhouding gehul, maar daar word geglo dat dit in die 17de of 18de eeu ontstaan het. In daardie tyd is die gereg dikwels gemaak deur skaapwagters en boere wat hul hande op net ’n paar eenvoudige bestanddele kon lê, maar ’n voedsame maaltyd nodig gehad het om hulle deur lang werksdae en selfs nagte te dra.

Wat ook al die oorsprong, Iersebredie het ’n ikoniese gereg in Ierse kookkuns geword, geliefd vir sy eenvoud en hartlikheid en bekend dwarsoor die wêreld.

Dit is behoorlik ’n sielsverwarmende gereg wat ook mense bymekaar bring, al is dit byna so eenvoudig soos een-twee-drie.

Maak dus hierdie naweek ’n Iersebredie, nie net om die koue af te weer nie, maar ook ter ondersteuning van die Bokke.

Iersebredie

(4-6 porsies)

Jy benodig:

– 1 kg pond ontbeende skaapvleis (van die skouer of boud) of skaapvleis (bv. skouer of nek), in so 3cm stukke gesny

– 1 eetlepel olie of varkvet vir braai

– 2 eetl. botter

– 2 eetl. koekmeel

– 2 groot wortels, in 1/2 duim stukke gesny

– 2 stingels seldery, fyngesny

– 1 medium geel ui, grofgekap

– 1 groot raap, in klein blokkies gesny

– 1 kg aartappels in dik stukke gesny

– 3 koppies goeie beesvleisaftreksel

– 1 1/2 teelepels seesout

– 1/2 teelepel vars gemaalde swartpeper

– 1 lourierblaar

– Vars gekapte pietersielie, plus ekstra vir garnering

So maak jy:

– Verhit ’n bietjie olie in ’n groot pan en braai die vleis aan alle kante tot mooi bruin. Wees versigtig om nie die pan te oorlaai nie en werk in sarsies soos nodig. Plaas die lam op ’n bord en sit opsy.

– In dieselfde pan, smelt die botter en voeg die meel by vleissousie. Klits saam om te meng en hou aan klits vir ’n paar minute of totdat die mengsel ’n ryk bruin kleur word. Voeg die aftreksel by, klits voortdurend. Prut totdat dit effens verdik het en hou eenkant.

– Smelt nog ’n eetlepel of twee botter in ’n swaar bodem pot oor medium-hoë hitte en voeg die groente by, behalwe vir die aartappels. Soteer vir ongeveer vyf minute. Voeg dan die vleis, aartappels, pietersielie, lourierblaar, sout en peper by. Giet die beesvleisaftreksel in die pot en roer goed deur.

– Bedek die pot en verlaag die hitte tot stadige prut vir so 2 1/2 tot 3 uur of totdat die vleis baie sag is. Proe halfpad deur of dit meer sout en peper na smaak nodig het.

– Met opdiening, versier met ’n bietjie gekapte pietersielie. Vir my is Iersebredie ’n volwaardige bord kos wat geen bykosse nodig het nie, maar indien die lus daar is, bedien met ’n kraakvars baguette of kapokaartappels.

Geniet dit!

You need to be Logged In to leave a comment.