Wat is dit nou skielik dié week met die “All Black Forever” page op Facebook?

Ek stry nie. Voor 2012 was ek in rugby ook ’n All Black-ondersteuner – vra maar my vriende – al moes ek eintlik ’n Springbok-supporter gewees het. Toe word ek ’n ambassadeur vir my land toe ek toergids raak. Met als wat ek geleer het uit die verlede oor die All Blacks en Suid Afrika en die meelstorie uit die Apartheidsjare, verstaan ek steeds nie hoekom sommige van ons bruin landsburgers nog die All Blacks ondersteun nie.

Maar hier is gou my stuiwer in die armbeurs oor die hele storie. Ek het in ’n huis waar my pa en my oom kranige All Black-ondersteuners was, grootgeword. Dit was toe eintlik deel van my erfenis en ek glo ook die rede hoekom baie van ons steeds ondersteuners is. My pa is in 1988 oorlede en kon nie 1994 ervaar soos ek nie. My oom het ook in 1995 ’n Springbok-ondersteuner geword. Dit was nadat hy Long Walk to Freedom gelees het. Ons het in 1995 gesien hoe Tata Madiba met Francois Pienaar se trui aan die Wêreldbeker lig en supertrots daarop was. Hy het nie daaraan geglo om wrokke te koester nie, hoewel hy die een mens was wat eintlik die meeste haat in sy hart moes gehad het. Hoe kan ons aanbeweeg as ons nog aan die verlede vasklou?

Ons is almal Suid-Afrikaners en ons staan nie onder ’n Apartheidsregering nie. Ek wil nie vandag die All Black-ondersteuners tot Springbokke bekeer nie, maar wil graag die volgende vra: wat beteken Nieu-Seeland vandag vir jou as ­burger van SA? Wat doen die All Blacks vir jou en jou familie? Het hul kaptein al ooit gesê, “this one is for all our supporters in SA”? Niemand hoef te antwoord nie – gaan dink net goed na.


Hybré van Niekerk,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.