Geniet ’n onvergeetlike aand van nostalgie saam met die legendariese sanger Engelbert Humperdinck in sy Last Waltz-konsert by GrandWest in Kaapstad.Foto:


Engelbert Humperdinck, ’n legendariese minnesanger, se The Last Waltz Farewell Tour kom in Julie na Suid-Afrika.

Dié Britse musiekster bekoor al dekades lank gehore met sy tydlose klassieke treffers en charismatiese optredes.

Ná ’n roemryke loopbaan wat oor ses dekades strek, het hy onlangs sy laaste wals aangekondig. Hy is slaggereed om een laaste keer gehore in Kaapstad en Gauteng met romanse van hul voete te vee.

Humperdinck het reeds in 1965 met sy romantiese melodieë internasionale bekendheid verwerf. Met treffers soos ‘‘Release Me’’, “A Man without Love’’ en ‘‘The Last Waltz’’ het hy meer as 150 miljoen albums wêreldwyd verkoop en talle eerbewyse ontvang, waaronder vier Grammy-benoemings en ’n Golden Globe vir Vermaaklikheidster van die Jaar.

Hy is ook een van ’n handjievol kunstenaars wat ’n ster op die Hollywood Walk of Fame sowel as een op die Las Vegas Walk of Fame het.

Engelbert se invloed het veel wyer as net musiek gestrek. Dit het tot vriendskappe met Elvis Presley en Dean Martin, asook Tony Bennet, Jerry Lewis en Sammy Davis jr. gelei.

Engelbert Humperdinck tree op 14 Julie om 16:00 in die Grand Arena by GrandWest op. Bespreek by www.webtickets.co.za.. Een gelukkige Paarl Post-leser kan ’n dubbelkaartjie vir die konsert wen. Om ’n kans te staan om te wen, stuur eenvoudig die naam van een van Engelbert se liedjies teen Maandag (8 Julie) na 066 484 3728. Die wenner sal telefonies gekontak word.

You need to be Logged In to leave a comment.