Nasionale Erfenisdag word jaarliks op 24 September herdenk na aanleiding van ’n kabinetsbesluit dat daar jaarliks ’n dag moet wees waarop Suid-Afrikaners, ongeag aan watter bevolkingsgroep hulle behoort, hul erfenis kan herdenk. Suid-Afrikaners moet dan onthou wie en wat hulle is en hul eie kultuurgeskiedenis, godsdiens en natuurlike geskiedenis onthou.

Erfenisdag gaan nie net oor die eie kulture van afsonderlike groepe nie, maar ook oor uitreiking oor die verskillende kultuurgrense heen. Elemente van nasionale eenheid, nasiebou, versoening en lands­patriotisme word op hierdie dag beklemtoon.

Dit was oud-president Nelson Mandela self wat die uitdrukking “reënboognasie” geskep het om die land se uiteenlopende kulture, gebruike, tradisies, geskiedenisse en tale te beskryf.

Erfenis is al omskryf as “dit wat ons geërf het: die somtotaal van die natuurlewe en natuurskoon, plekke van wetenskaplike of geskiedkundige belang, nasionale monumente, historiese geboue, kunswerke, literatuur, musiekstukke, mondelinge tradisies en museumver­samelings saam met hul dokumentasie”.

Ons is ’n mengelmoes van kulture wat ons erfenis is, en of dit nou braai is wat jou erfenis vier, ’n museum besoek of ’n kulturele seremonie bywoon – kom ons respekteer ons almal se erfenis.

You need to be Logged In to leave a comment.