Is ouma okei? Demensie-werksessies gaan in die Paarl gehou word vir mense wat dié vraag vra.
Die aantal mense wat met demensie in sy verskillende vorme leef, soos alzheimers, neem teen ‘n ontstellende pas toe. Dit skep ‘n behoefte aan gesinslede wat voorbereid is om hierdie mense op te pas en te versorg.
Drie organisasies sonder winsoogmerk (Paarl Rotariërs, Dementia SA en True2You) het hul talente gekombineer om spesiale werksessies te reël vir mense wat tans ‘n demensie-lyer versorg of hulle daarop wil voorberei.
Die werksessies fokus daarop om mense wat hul pa, ma, eggenoot of ander famililid met alzheimers of demensie versorg, touwys te maak.
Die uitwerking van dié siekte op die familie van die pasiënt, en veral die familielid wat versorg, is net so erg as wat dit vir die mens met die siekte is.
Dit is dus noodsaaklik dat die familielid-versorger (in België ‘n mantelzorger genoem) soveel ondersteuning as moontlik op hierdie reis geniet.
Die werksessies, getitel Labirint-sirkel, vind in drie sessies plaas van 09:30 tot 12:30:
- Op 8, 15 en 22 Mei by die MCM Tiffany’s Sorgsentrum in Lantanastraat, Paarl-Oos; en
- op 9, 16 en 23 Mei in die FFG-gebou (tweede vloer), Bergrivier-boulevard 73 (hoek van Rozestraat), Paarl.
Die sessies bekyk die versorger se emosies, die hantering van versorging en beheer, hoe om die gedrag van die pasiënt te verstaan, hantering vanwetlike en finansiële komplikasies, doeltreffende kommunikasie met die pasiënt en ander uitdagings.
Die werksessies skep die geleentheid om interaksie te hê met ander versorgers wat dieselfde uitdagings beleef.
Om jou plek te bespreek:
- Kontak secretary@paarlrotary.co.za of stuur ‘n WhatsApp na 083 264 8000 (soggens) met jou naam en kontakbesonderhede.
- Senior klubs is welkom om plekke vir lede te bespreek.
- Kostes beloop R50.
- Bel Rudy by 083 388 7085 vir verdere navrae.