Die Waterpoel is die tuiste van Bergheim Kelder en Trudy Oosthuizen Ceramics. Saterdag (6 Julie) word hier weer van 11:00 tot 16:00 ’n opedag gehou, met ’n geskikte tema vir die hartjie van die koue winter – warm.

Die Waterpoel is langs die Laborie-wingerd geleë, met die ingang in Jan Phillipsbergpad.

Die kaggel gaan brand en Yvonne, of Sugarfairy, gaan heerlike kerrie aanbied vir eet of wegneem. Lamskerrie sowel as vegetaries sal beskikbaar wees.

Brain Hofstetter het Grappa van Merlot-druiwe gemaak en hy sal ’n wynproe aanbied. As jy suurlemoene in oorvloed het, kan jy ook kom leer oor verfrissende lemoncello en suurlemoenstroop.

’n Huisvriend maak die heerlikste jenewer met verskeie botaniese bestanddele. Dit sal ook te proe wees.

As hardehout nie jou vriend is nie, is daar altyd die vertroostende sagte Shiraz/Mourvedre-versnit uit Bergheim Kelder.

Kom gesels ook met Edwin Jordaan oor sy 4-ster Platter-wyn.

’n Wintertuin het sy eie skoonheid en ’n wandeling deur Waterpoel se geurtuin is besonder kalmerend.

Trudy se keramiek sal ook uitgestal en te koop aangebied word.

. Kontak Trudy by waterpoel@mweb.co.za vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.