As jy ’n bewonderaar van die gewilde popgroep RJay & LK is, kan jy nie hul vertoning Saterdag 24 September by die pretdag van die Church of the Ascension misloop nie.
Dié feestelikheid, met iets vir die hele gesin op die spyskaart, geskied by die Sonop Primêr by Keerweder Weg 3, Paarl.
Die groot aantreklikheid is natuurlik RJay & LK, wat die mense gaan laat dans met hul treffers soos “Wikkel”, “Sonder Jou”, “Jy Voelit”, “Jy is Hier”, “KuierLeier”, “Swalala”, “Laaste Dans” en vele meer.
As jy van gevaarlike karre hou, is die “Car Show” net vir jou. Daar is ’n deejay, ’n springkasteel om die kinders besig te hou en die rugbytoets tussen die Springbokke en Argentinië word op ’n grootskerm gewys.
Vure sal verskaf word, so mense kan hul vleis saambring om Braaidag te vier. Die pret begin om 10:00 en duur tot 19:00.
Volwassenes betaal R30, kinders onder 12 R10, en dit kos R40 vir ’n bestuurder en sy voertuig. As jy jou koelboks saambring, kos dit R50.. Kontak Michael by 082 485 3098 of Shany by 061 481 4278 vir nog besonderhede.





