Die Wellingtonse suikerkunstenaar Dot Klerk het weer alle grense oorskry toe sy vroeër die maand na Australië gereis het om ’n koek van die Groot Koraalrif te maak. Sy is deur die International Cake Show Australia genooi om die koek 17 en 18 Mei in Brisbane uit te stal.
Sy sê sy het die afgelope drie jaar aan die kompetisie deelgeneem en dié jaar is sy gevra om die pronkstuk vir die geleentheid te maak. Die koek bestaan uit ’n grootwithaai, ’n duiker en die koraalrif.
“Daar was twee gedeeltes aan die geleentheid – ek het die koraalrif-koek gemaak vir vermaaklikheidsdoeleindes en ek was ook lid van die internasionale span wat teen die Australiese span meegeding het,” vertel Klerk. Sy verduidelik hulle het ’n ander koek vir die kompetisie gemaak, maar die Australiese span het die kompetisie gewen.
“Dit is nie ’n ernstige kompetisie nie, maar die Australiërs hou nie daarvan om te verloor nie,” spot sy.
Die koraalrif-koek, wat altesaam sowat 1,7 ton geweeg het, het 500 kg koek, 70 kg ganache, 140 kg gewone sjokolade, 180 kg fondant en 100 kg moduleringsjokolade bevat. Sy sê dit het drie weke geneem om te voltooi en sy het gelukkig ’n regterhand en ’n span gehad om haar te help. Die koek is ná die uitstalling gesny en geëet.
Klerk is nie ’n nuweling in die bedryf nie en haal gereeld nuusopskrifte met haar kuns. Vroeër vanjaar het sy ’n koek van oudpresident Nelson Mandela gemaak, verlede jaar het sy ’n reusekoek van ’n leeumannetjie en -wyfie en vyf welpies gemaak en in 2017 het sy ’n massiewe koek van ’n olifant en ’n kalfie gemaak. Dit was telkens vir verskillende liefdadigheidsprojekte.
Ná die twee dae by die Internasionale koekvertoninghet sy twee pryse van die Australian Cake Artist and Decorators Association ontvang. Met die een is sy aangewys as die wêreldwye koekheld van die jaar en die ander een was haar inhuldiging in die Hall of Fame.
• Wellington-based sugar artist Dot Klerk traveled to Australia earlier this month to make a Great Coral Reef cake. She was invited by the International Cake Show in Brisbane, Australia, to display the cake on 17 and 18 May.