Wat ’n jammerte is dit nie dat Die Burger geen berigte oor klubrugby in die Boland publiseer nie. Tot onlangs nog is opwindende klubkompetisies in die Bolandstreek gespeel. Veral op Wellington, waar die halfeindstryd en eindstryde in die Groot Uitdaag-kompetisies gespeel is.
Koerante behoort in ag te neem dat die Wes-Kaapse platteland ’n voedingsbron vir etlike groot rugbyspanne geword het. Hier word nie net opwindende rugby gespeel nie, maar talent groei en ontwikkel hier soos wingerdstokkies. Kyk maar net na die Arendses, Willemses, Moodies en Libokke (om maar net ’n paar te noem) wat deur gemeenskappe in hierdie streek opgelewer word.
Daarom is daar ’n leemte op die koerante se sportblaaie omdat lesers nie op hoogte gehou word van wat op klubvlak in die Boland gebeur nie. Hou ook in gedagte dat hierdie wedstryde gereeld groot skares lok.
Klubrugby verdien dus beslis meer aandag.