Die historiese Paarl-rugbyklub, wat in 1883 gestig is en die derde oudste rugbyklub in Suid-Afrika is, bevind hom in ’n stryd om oorlewing te midde van verskeie uitdagings.

Die klub, wat bekend is vir die ontwikkeling van rugbyreuse soos die Springbokke Louis Louw, Boy Louw, Fanie Louw en Pierre de Villiers, word deur ’n onseker toekoms in die gesig gestaar. Die klub het onlangs ’n uitsettingskennisgewing van die Drakenstein-munisipaliteit ontvang om sy klubhuis by die Parys-sportterrein te ontruim.

“Ons het die munisipaliteit se eis met ’n prokureursbrief beantwoord,” sê Polla Maritz, die president van die Paarl-rugbyklub. “Tot nou het ons nog geen amptelike reaksie ontvang nie, hoewel die munisipaliteit aangedui het dat hy vroeg in 2025 ’n vergadering wou reël.”

Bespiegelinge doen die ronde in die gemeenskap dat die grond vir ’n groot ontwikkeling geoormerk is. Die klub het aangedui hy is bereid om te verskuif, maar dring aan op regverdige vergoeding vir die klubhuis wat die klub se lede gebou en in stand gehou is.

Die klub se uitdagings strek egter verder as die huidige huisvestingkrisis. Die afgelope jare is gekenmerk deur ’n afname in ledetalle, ’n gebrek aan behoor­like oefengeriewe en die gevolge van die Covid-19-pandemie, wat borge se vermoë om by te dra, erg beïnvloed het.

Die klub het in ’n dramatiese wending besluit om nie meer by die Westelike Provinsie-rugbyunie te affilieer nie. In plaas daarvan het hy ’n nuwe rigting ingeslaan deur by die Boland- Sosiale Liga aan te sluit, waar hy met die Malmesbury-rugbyklub vir die 2025-seisoen sal saamwerk.

“Hierdie is vir ons ’n unieke geleentheid om die Paarl-rugbyklub se trotse wapen weer op die veld te sien,” verduidelik Maritz. “Spelers in die sosiale liga speel vir die liefde van die spel, nie vir vergoeding nie. Dit herinner ons aan die waardes waarop ons klub 141 jaar gelede gebou is.”

Die klub se nuwe benadering fokus op die ontwikkeling van plaaslike talent en die hervestiging van die klub as ’n gemeenskapsbate. Die klub, wat ’n gesonde bankbalans het en met hernude fokus op rugby-ontwikkeling pronk, bly optimisties oor sy toekoms.

“Ons is dalk nou gekneus, maar gewis nie gebreek nie,” sluit Maritz af. “Ons glo hierdie nuwe rigting sal ons help om die klub se trotse nalatenskap vir nog 140 jaar voort te sit.”

You need to be Logged In to leave a comment.