Wellington se strate was op Nuwejaarsdag gevul met opwindende marsmusiek toe die veertien klopse-groepe van die Wellington Minstrels van vroegdag af deur die dorp se strate na Boland Stadion gemarsjeer het om aan hul groot jaarlikse kompetisie om die beste groep aan te wys, deelgeneem het.
Volgens Danny van Rooyen, voorsitter van die Wellington Minstrels, het Nuwejaarsdag se verrigtinge almal se stoutste verwagtinge oortref.
“Die altesaam 2 500 troepe van die veertien groepe waaruit die Minstrels bestaan, het hulself oortref wat voorkoms, die gehalte van hul vertonings en veral wat die kwaliteit van die orkeste betref,” het Van Rooyen aan die einde van die dag se verrigtinge gesê.
Die verrigtinge by Boland Stadion het die hele dag geduur. Elke groep is deur ’n span kundiges beoordeel en die wenner sal op 30 Januarie ná ’n finale vertoning by Boland Stadion aangewys word. Meer as 4 000 Wellingtonners het die stadion op Nuwejaarsdag volgepak en duisende meer het langs die strate saamgedrom toe die groepe deur die dorp se strate na die stadion marsjeer het.
Van Rooyen het die feit betreur dat die enkele ander groepe, wat ’n jaar of twee gelede van die Wellington Minstrels weggebreek het, nie saam met die Minstrels aan Nuwejaarsdag se vertoning deelgeneem het nie.
“Van die Minstrels se kant glo en hoop ons nog steeds dat ons die verskille in die nabye toekoms uit die weg sal kan ruim en dat Wellington weer met een groot klopse-groepering sal kan spog. Naas Kaapstad is Wellington die enigste ander plek wat met sy eie klopse-groepe kan spog. Die klopse van Wellington spog met ’n lang en roemryke tradisie. Ek glo ons almal saam in die nabye toekoms met nuwe krag hierdie ou tradisie sal kan voortsit.”