Die Klopse is ’n eg Suid-Afrikaanse tradisie wat al jare bestaan en ’n ryk geskiedenis het.
Ná sewe jaar van verdeeldheid was die ondersteuners van die Klopse en groepe verlig dat daar uiteindelik eenheid is.
Die kultuurryke gebeurtenis is vanjaar oor drie Saterdae gehou (1 en 15 Januarie en 1 Februarie). Dié dae het op die Boland-stadion plaasgevind. Die geleentheid word ook gekenmerk deur vrolike sang, uitspattige uitrustings en danspassies.
Franscois “Kaballie” Davids, adjunkpresident van SA-rugby, het die proses van vereniging gefasiliteer. Die Klopse-kompetisie is onder die vaandel van F&S Projects aangebied met altesaam 17 troepe wat deelgeneem het.
Die gemeenskap van Wellington het in groot getalle opgedaag om hul onderskeie troepe te ondersteun. Troepe het hoë standaarde gehandhaaf en selfs verbeter – dit is duidelik dat Drakenstein baie talent het.
Met die laaste dag van die kompetisie is daar gekyk na die senior tamboermajoor en ’n senior gekombineerde lied is gesing. Fabulous Pearlites se Ismaeel “Smiley” Dean het sy eerste plek as senior tamboermajoor losgedans. Die senior gekombineerde lied het ook aan Pearlites ’n eerste plek besorg.
Die algehele wenspan was die Super Stars (1x1ste, 4x2de, 2x3de plekke). Caledonian Roses moes tevrede wees met ’n tweede plek (4x1ste, 2x2de, 3x3de). Hotshots Pelican Sylvanians was derde (3x1ste, 2x2de, 2x3de plekke). Fabulous Pearlites het vierde geëindig (2x1ste, 2x2de, 2x3de plekke).
Daar is beslis ruimte vir verbetering, want daar was baie minder nommers as in die verlede as gevolg van tyd.
Die senior solo was een van die hoogtepunte in die verlede, maar was nie een van die nommers op dié program nie.