Tans is die Toringkerk ’n byenes van bedrywighede nadat steierwerk opgerig is ter voorbereiding vir opknappingswerk aan hierdie historiese gebou in die hartjie van die Paarl.
’n Woordvoerder vir die kerk het gesê die bouspan is steeds in ’n ondersoekende stadium na die omvang van die opknapping wat aan die toring en die horlosie gedoen moet word.
Maar intussen wil die publiek van die Paarl weet wanneer die kerkklok weer gaan lui.
Die drama om die klok het reeds in 2012 begin. Die klok het vir ’n geruime tyd stilgestaan vanweë herstelwerk.
En omdat die klok ver oor honderd jaar oud is, was dit nie ’n maklike taak om die nodige onderdele daarvoor te kry nie.
Maar te danke aan ’n plaaslike spesialis-horlosiemaker is die klok herstel en het dit in 2016 weer begin lui.
Die klok se gebeier was egter van korte duur.
’n Getroude paartjie wat hul intrek in die Paarl geneem het terwyl die klok stil was, was woedend toe die klok weer begin lui het en het gedreig dat hulle die kerkraad gaan dagvaar omdat hulle nie die kerkklok se geluid kan verduur nie.
Die paartjie het destyds in ’n onderhoud aan Paarl Post gesê dit was vir hulle “onhoudbaar” toe die klok skielik elke 15 minute begin lui het.
Hulle hou vol hulle het die kerkraad telkemale versoek om nié die klok op te wen nie.
Hierna het hulle het ’n prokureursbrief aan die kerkraad gerig en die kerkraad met dagvaarding gedreig. Weens hierdie dreigement het die kerkraad besluit om die kerkklok vir tyd en wyl stil te hou.
Dié Norman & Beards-kerkklok is in 1906 met die amptelike inwyding van die kerkgebou in gebruik geneem.
Maar Paarliete beskou die kerkklok se lui as ’n tradisie wat al 120 jaar sonder enige klagtes in die Paarlse middedorp weerklink – dít totdat die paartjie hier hul intrek geneem het.
Die Drakenstein-munisipaliteit het ook hier betrokke geraak en ’n desibellesing van die klok se klank geneem om vas te stel of dit binne die wetlike geraasperk val.
En volgens hul bevinding oorskry die kerkklok se lui wel die voorgeskrewe desibels.
Die kerkraad het die vrede probeer bewaar en die plaaslike horlosiemaker Chris Snyman ingespan om ’n alternatief te vind sodat die klok slegs in dag-ure lui.
Maar terwyl Snyman nog met ’n patent hiervoor vorendag probeer kom het, is hy skielik dood.
Onlangs het die gemeenteraad van die Toringkerk goedkeuring verleen vir die stig van ’n spesiale fonds vir die herstel van die kerkklok asook die restourasie van die binneruim van die toring.
“Ons toring is amptelik die hoogste kerktoring in Suid-Afrika.
“Dit is daarom een van die belangrike bakens in ons pragtige dorp met sy ryke geskiedenis,” het die kerk in ’n verklaring gesê.
“Indien dit met ons goed gaan, wil ons die horlosie gedurende die 150-jaar-vieringe van ons gemeente aanstaande jaar weer in werking stel.”