Die graad 4-klas van juffrou Melanie Wolhuter by die Laerskool Drakenstein is op ’n missie om ’n positiewe ingesteldheid in die Paarl te versprei met hul klipverf-projek.
Die klas versamel klippe waarna hulle dit dan versier met positiewe boodskappe op voordat die klippe in die natuur teruggeplaas word. Met dié projek wil Wolhuter en haar klas hoop en inspirasie aan vreemdelinge verskaf deur die boodskappe.
“Die klip van hoop het ’n positiewe boodskap wat dalk iets spesiaal kan beteken en hoop kan bring vir iemand juis in dié moeilike tyd.”
Wolhuter vertel sy is geïnspireer deur ’n Facebook-groep, Southern rocks, waar skilders van Mosselbaai klippe verf en dit dan agterna in die omgewing rond plaas.
“Die idee is om die boodskap te lees, te glo en dan weer die klip vir iemand anders te plant. Ons poog om die hele Paarl-gemeenskap betrokke te kry en klippe van hoop te plant.
“Dit kan dalk vir iemand juis op die regte tyd iets besonders beteken,” sê Wolhuter.
Leerders wat by die projek betrokke is, beoog om die klippe met die bemoedigende en hoopvolle boodskappe oor die Paarl te plaas – met die hoop om vreemdelinge se hartsnare aan te raak.
“Die Drakies is vreeslik opgewonde om hul klippe te gaan plant en wonder vir wie dit ’n boodskap van hoop kan bring. Ons moedig ander skole en organisasies aan om ook so ’n projek aan te pak en die Paarl ’n omgeedorp te maak,” vertel Wolhuter.