Skok en ongeloof! Dit was die reaksie van die Paarlse publiek toe die nuus breek van die gekneusde lykie van ’n vierjarige meisietjie wat in lang gras op ’n skoolterrein gevind is.
Die noodsein het Sondagaand reeds uitgegaan nadat Tamia Botha die middag omstreeks 16:00 van haar huis in Daphnestraat vermis geraak het. Haar ma, Udene Botha, het haar dieselfde aand omstreeks 20:00 by die Paarl-Oos-polisie as vermis aangemeld.
Die gemeenskap se hulp is op verskeie sosialemediaplatforms gevra om na Tamia te help soek. Die polisie tesame met die Paarlse eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe (GKS), buurtwagte en lede van die gemeenskap het ’n soekgeselskap begin en sonder sukses na die kind gesoek.
Almal se ergste vermoede het Maandagmiddag waar geword toe leerders van Nederburg Primêr in Klein Nederburg op die gru-vonds afgekom het.
“Die rolspelers het Maandag voortgegaan met die soektog en besluit om ’n deur-tot-deur-soektog in die omgewing waar die kind vermis geraak het, te doen. Terwyl hulle nog daarmee besig was, het die lede inligting ontvang dat die liggaam van ’n kind op die perseel van Nederburg Primêr in die lang gras langs die heining by die woonstelle gevind is,” sê kapt. Anthony Sauls, ’n woordvoerder van die Paarl-Oos-polisie.
Die nuus van die moord het soos ’n veldbrand versprei en honderde inwoners het na die toneel opgeruk met die aandrang dat geen klip onaangeraak gelaat moet word in die soeke na die moordenaar nie.
“Die lede van die polisie het hulle na die toneel gehaas, waar hulle die lyk van ’n jong meisie met sigbare wurgmerke aan die nek gevind het. Dit was duidelik dat die kind dood is en op die toneel gestort is. Die toneel is sowat 100 meter van waar die meisie vermis geraak het.”
Gerugte het die ronde gedoen dat die Paarl-Oos-polisie kort ná die ontdekking van Tamia se lykie ’n “verdagte” in hul visier gehad het. Sauls het later bevestig beamptes het net dié “verdagte” vir sy eie veiligheid in die polisiewa gelaai nadat mense op die toneel die vinger na die man gewys het. Die skare wou hom glo bykom nadat die ongegronde bewerings aan die lig gekom het. Die man is uitgelaat om huis toe te gaan nadat die skare gekalmeer het.
Mense op die toneel op die skoolperseel het gesê hulle het kort voordat die klok vir die einde van die skooldag gelui het ’n man in donker klere met ’n groot sak oor sy skouers oor die skoolterrein na die agterkant van die sportveld sien stap.
Dit is vermoedelik hy wat Tamia se liggaam hier gestort het.
Tamia se ma het die hartseer taak gehad om haar liggaampie op die toneel uit te ken.
“Ek het heelnag saam met die polisie gery en na Tamia gesoek. Toe die nuus kom dat ’n kind se liggaam gekry is, het ek ’n nare voorgevoel gehad. Toe ek haar op die toneel sien, het ek inmekaargesak. Hoekom sal iemand dit wil doen?”
Geen verdagtes is tot dusver geïdentifiseer nie. Sauls pleit dat enigiemand met inligting wat in die ondersoek kan help die polisie kontak. Die moord op Tamia word deur die GKS-eenheid in Paarl ondersoek. Bel speurkonstabel Elmarco Martiens by 083 788 1114 of 021 872 3546.
- Shock and disbelief! This was the reaction of the wider Paarl public when the news broke of the bruised body of a four-year-old girl found in long grass on a school ground.


