Die spierwit kissie van Tamia Botha word by die kerk ingedra deur familielede.Foto: Kaylynn Palm


Tamia Botha, die vierjarige meisie van Paarl-Oos wat vermoor is, is verlede Vrydag (7 Oktober) ter ruste gelê.

Honderde mense het opgedaag om hul laaste eer te betoon aan Tamia wie se lewe wreedaardig kortgeknip is. ’n Troosdiens is by haar ouerhuis gehou waarna dit na ’n nabye kerk verskuif het.

Die kleuter het op 25 September vermis geraak waar sy in Daphnestraat, Paarl-Oos, voor haar woning gespeel het. Haar gekneusde liggaam is die volgende dag gevind op die perseel van Nederburg Primêr. Kapt. Anthony Sauls, Paarl-Oos-polisiewoordvoerder, het voorheen gesê die slagoffer het sigbare wurgmerke aan haar nek gehad toe sy tussen lang gras gevind is.

Twee mans van onderskeidelik 37 en 40 jaar, is kort na Tamia se dood in hegtenis geneem vir haar moord. Die mans is enkele dae daarna vrygelaat omdat daar glo nie genoegsame bewyse was wat hulle met die moord verbind nie. Dit is egter nie duidelik hoekom die polisie die mans in die eerste plek in hegtenis geneem het nie. Tamia se tragiese dood het nie net baie hartseer veroorsaak nie, maar ook baie woede in die gemeenskap. Inwoners is ontsteld dat die oortreder nog op vrye voet is.

Ian Cameron van die nie-regeringsorganisasie Action Society, is deur die familie gevra om as woordvoerder vir hulle te dien. Cameron sê die ondersoek na die moord op Tamia is aan die gang, maar dat die saak tans in ’n sensitiewe stadium is.

“Daar was verskriklik baie mense by die begrafnis. In ’n stadium was daar meer as 1 000 mense. By die begrafnis kon ek sien daar is baie woede en frustrasie onder inwoners. Die gevoelens vlam verder op omdat die polisie nie met die gemeenskap kommunikeer nie. Mense word ingeneem vir ondervraging, maar niks gebeur nie.

“Dit gaan ook glad nie goed met Tamia se ouers Udene Botha en Gideon Thys nie. Haar pa was baie emosioneel tydens die begrafnis. Die dag voor die begrafnis het Udene Tamia se doodsertifikaat ontvang. Dit was vir my baie hartseer toe hulle vir my vertel dat Udene haar hand op Tamia geplaas en gesê het “my kind, jy is vier jaar oud en jy het ’n doodsertifikaat”.

Die moordsaak word deur die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe in die Paarl ondersoek. Enigeen met inligting wat die ondersoek kan help, kan speurkonstabel Elmarco Martiens by 083 788 1114 of 021 872 3546 bel. .Tamia Botha, the four-year-old girl from Paarl East that was murdered, was laid to rest on Friday (7 October). More than 1 000 people attended.

You need to be Logged In to leave a comment.