Die legendariese Wellingtonse krisantboer Japie Willemse (regs) is op die foto in sy krisant-kweekhuis saam met Marcelle Rhode (links) en Christiaan Small op die vooraand van die Wellington-tuinbouvereniging se 108ste krisanteskou. Dié drie bewonder juis Willemse se gunsteling- geel Kinzanne-krisante. Foto: Lise Beyers


Groot opwinding heers aan die vooraand van die Wellingtonse tuinbouvereniging se 108ste skou wat Saterdag (4 Mei) in die Breedsaal gehou word.

Die eerste skou is op 26 April 1916 in die Pauw-gedenkskool gehou en sedertdien het die krisantkwekers hierdie tradisie laat voortleef deur die kuns van krisantkweek van geslag tot geslag oor te dra.

Voorbeelde hiervan is Allister en Freddie Cyster, prof. Michael le Cordeur van die US, wat die kuns by sy pa geleer het, en die skoolhoof Anthony Cavernelis, wat ook by sy pa, Eddie Cavernelis, geleer het.

Vanjaar, meer as 40 jaar nadat die Wellingtonner Japie Willemse by die krisanteskou betrokke geraak het, gaan hy op 84-jarige ouderdom die tuig neerlê.

Ontdek die prag van krisante by die jaarlikse krisanteskou van die Wellington-tuinbouvereniging.

. Vanjaar se skou vind Saterdag (4 Mei) om 13:00 by die Breedsaal in Wellington plaas. Al die lekkerhede van die skou sal op die spyskaart wees en blomme sal teen 16:00 te koop aangebied word. Toegang is R20, wat ’n brosjure insluit.

You need to be Logged In to leave a comment.