Kleur kelder WP

Die o.16- Grant Khomo-rugbyweek, wat verlede week in die Paarl gehou is, het onder ’n donker wolk geëindig omdat die Westelike Provinsie sy plek in die hoofwedstryd kwyt is nadat hy nie aan rasteikens voldoen het nie.


Die o.16- Grant Khomo-rugbyweek, wat verlede week in die Paarl gehou is, het onder ’n donker wolk geëindig omdat die Westelike Provinsie sy plek in die hoofwedstryd kwyt is nadat hy nie aan rasteikens voldoen het nie.

Die Streeptruie se o.16-span sou Donderdag die Vrystaat pak in die laaste wedstryd van die toernooi wat by die Hoër Landbouskool Boland in die Agter-Paarl gehou is om spogreg vir dié toernooi se nie-amptelike kroon.

Die Westelike Provinsie het die Bulle op die tweede dag van die toernooi met 25-18 in ’n hoogs spannende wedstryd in baie nat weersomstandighede geklop.

Die WP is met beserings gelaat en twee gekleurde spelers moes dus vervang word – met twee wit senters – vir die kragmeting teen die Ligbloues.

SA Rugby vereis dat minstens 11 spelers van kleur in die 23-tal van alle provinsiale spanne by jeugweke moet wees. Dié verandering het egter toe nie aan die vereiste voldoen nie.

Die Bulle het dit onder die bestuur van die toernooi se aandag gebring en gevolglik is hulle tot die hoofwedstryd bevorder, met WP wat moes terugtree en die Leeus die stryd in die voorlaaste kragmeting sal aansê.

Hierdie besluit is wyd gekritiseer.

Anroux Marais, die Wes-Kaap se minister van sport, het gesê jongmense moet aangemoedig word om deel te neem en nie weens kwotastelsels gepenaliseer word nie.

“Dit is met groot teleurstelling dat ek gehoor het van die uitskakeling van die Westelike Provinsie se o.16-span by die onlangse Grant Khomo-week-rugbytoernooi as gevolg van die kwota-teikens wat nie bereik is weens die besering van hul spelers.

“Hoewel ons groot vordering in sport in ons land gesien het, kan ons nie toelaat dat die vreugde van die spel van ons jong spelers weggeneem word weens omstandighede buite hul beheer nie. Die Wes-Kaapse regering het die positiewe impak gesien wat deelname aan sport op ons jongmense maak – van die bou van hul selfvertroue, die leer van lewensvaardighede en om hulle met ander te verbind. Ons het ook gesien dat sport geleenthede aan ons jongmense bied om positiewe keuses te maak en by ‘goeie bendes’ aan te sluit, waar hulle kan groei en floreer, eerder as om ’n pad van gangsterism en geweld te bewandel.

“Sport is vir baie jongmense hul enigste positiewe interaksie buite skoolure, waar hulle ’n kans kry om weg te kom van die negatiewe invloede wat hulle dikwels omring en waar hulle ’n gevoel van behoort ervaar, asook hernieude hoop en vreugde vir die toekoms. Ons moet dit nie van hulle wegvat wanneer omstandighede beteken dat sommige spelers weens ’n besering nie kan speel nie.

“Ons het oor die afgelope jare hernieude energie en vreugde gesien om ons nasionale sportspanne te ondersteun terwyl hulle in Wêreldbeker-byeenkomste meeding. Toe Siya Kolisi die Rugbywêreldbeker in 2019 bo sy kop gelig het, het hy gewys enigiemand kan sukses op die hoogste vlakke behaal, ongeag wie hulle is en waar hulle vandaan kom.

“Laat ons nie in die pad staan ??om toekomstige sportsterre te koester en die selfvertroue van ons jongmense te ontwikkel weens politieke inmenging nie.”

Die Bulle het hulle in ’n dramatiese wending nie net in die hoofwedstryd van die o.16-Grant Khomo-rugbyweek bevind nie, maar boonop die Vrystaat in ’n merkwaardige vertoning in ’n modderbad met ’n stewige 20-12 geklop.

WP het die Leeus met 10-5 verslaan.

You need to be Logged In to leave a comment.