Dis net ná drie in die oggend. Tasha’tjie lê en slaap in ’n kamertjie van ’n humble huis. Die maan se strale weerkaats teen die mure soos in ’n mooi beligte movie scene. Die lig skyn op die skraal dertienjarige.

Die kamerdeur swaai saggies oop. ’n Groot man in sy vroeë dertigs stap die donker kamer binne. Hy mik vir die bed waar Tasha lê.

Sy is dadelik wakker toe sy die deur hoor oopgaan. Haar hart klop vinnig. Die knop in haar keel sê vir haar sy is bang.

Toe sy omdraai, sien sy haar oompie, Emile, langs die bed staan. Met ’n dik vinger op sy lippe beduie hy haar om stil te bly. Hy klim in haar bed en sit sy hande op haar. Sy resist, maar dit help nie. Hy trek aan haar klere, maar sy gee nie in nie.

Tasha’tjie haal diep asem om te skree. “Help! Antie . . .” toe druk ’n hand oor haar mond.

Shut up!”

Sy stem is sag en dreigend.

Tasha gee nie in nie. Sy spartel, spring op en hardloop na die deur, maar Emile is by haar net toe sy die handvatsel draai. Hy maak asof hy haar gaan klap, maar dan vat hy haar gesiggie in sy groot, harde hande en draai haar oë na hom toe.

“Sê jy net iets en jy hettiemeer ’n blyplek nie. Hoor jy my, Tasha’tjie?”

En toe maak hy die deur saggies agter hulle toe.

Twee jaar later staan Merline, Emile se vrou, in die kitchen en was skottelgoed. Sy het rollers in haar hare en ’n ciggie hang in haar mond. Uit die oop agterdeur hoor sy die community se honde blaf. Tasha kom van buite af. Sy’s nervous en byt haar naels voordat sy skaam met haar antie probeer praat.

“Antie Merline, kan ek gou met Antie praat, asseblief?”

“Wat is dit, Tasha? Kan jy nie sien ek is besig nie?”

Tasha wil sê dat sy iets belangrik op haar hart dra, maar sy is van voor af bang. Die woorde bly in haar mond sit.

“Haai, jinne! Nou práát, Tasha!”

Sy sukkel om die woorde uit te kry.

“Uhm . . . Uncle Emile het my eers . . . try rape, antie. Dis nou al vir twee jaar. Ek wou dit nooit vir antie sê nie, want . . .”

Voor sy verder kan praat, skree Merline haar dood.

“Jy weet dis ’n serious accusation wat jy maak? My man sal nooit so iets doen nie. En, Tasha, laas toe ek gehoor het, was jy die een wat by Emile aangeklop het. Los my man uit en hou op om hier rond te loop met jou miniskirts. Loop nou uit my kitchen uit voordat ek jou uit my huis uit smyt!”

Dis net ná vier die volgende oggend toe Emile weer die kamertjie se deur oopstoot en agter Tasha in die kooi inskuif. Tasha baklei nie meer nie. Sy lê net daar. Haar oë is oop. Die trane loop, maar die huil kom nie tot by haar lippe nie.

Wolke trek vanaand stadig voor die maan verby. En toe is dit skielik pikdonker.

. Reginald Hufkie is ’n storieverteller van Gqeberha.

You need to be Logged In to leave a comment.