Klein Gim se skoolhoof, Louis Lategan, by die skool se gelukbringer asook leerders wat elkeen ’n blokkie gras vashou om huis toe te neem. Foto’s: Jana Scheepers


Die Laerskool Paarl Gimnasium droom al die afgelope 12 jaar om met sy astro-hokkieveld te pronk.

Dié droom word uiteindelik ’n werklikheid, met die sooi wat reeds op die Chevé-sportgronde gespit is en konstruksie wat eersdaags gaan begin.

Volgens Louis Lategan, Klein Gim se skoolhoof, beoog die skool om die astroveld teen Maart 2025 te open – betyds vir 2025 se hokkieseisoen.

Die sportterrein die afgelope Vrydag (6 Mei) oorval deur Gimmies toe die hele skool – die personeel en skoolhoof ingesluit – sooie uitgespit het.

Elke leerder kon ’n blokkie gras wat uitgehaal word om vir die astrobaan plek te maak, huis toe neem en herplant.

Laerskool Paarl Gimnasium is ’n tradisieryke skool wat oor die afgelope 166 jaar ’n bastion van Afrikaanse onderwys is. Vir elke Gimmie is dit [dus] ’n voorreg om ’n stukkie van die Chevé se gras huis toe te neem en so simbolies die sportveld wat uitstekende sportsterre opgelewer het, by elke Gimmie-huis te laat groei.
Louis Lategan

“Laerskool Paarl Gimnasium is ’n tradisieryke skool wat oor die afgelope 166 jaar ’n bastion van Afrikaanse onderwys is. Vir elke Gimmie is dit [dus] ’n voorreg om ’n stukkie van die Chevé se gras huis toe te neem en so simbolies die sportveld wat uitstekende sportsterre opgelewer het, by elke Gimmie-huis te laat groei,” sê Lategan.

Klein Gim is een van die eerste laerskole in die Drakenstein-vallei wat sy astroveld self finansier en nie hande vat met ’n hoërskool nie – in dié geval die Hoërskool Paarl Gimnasium.

’n Onderwyser help gras aan leerders uitdeel.

“Die vorige beheerliggaam het die visie gehad en met die kies van die nuwe beheerliggaam is die besluit geneem om daad by die woord te sit,” sê Lategan.

Volgens hom het die skool altesaam 55 hokkiespanne “wat dit onmoontlik maak vir almal om gelyke hoeveelheid speelkans op die astroveld te kry”.

Nietemin, indien tydgleuwe oop is, sal Klein Gim die tydgleuwe aan ander skole “verhuur”.

Die skoolhoof het verduidelik dat die skool ’n lening aangegaan het om die astroveld van stapel te stuur, wat afbetaal word deur middel van geldinsamelingsprojekte en skenkings.

Twee ywerige leerders vat hul stukke gras met groot opgewondenheid.

“Die Laerskool Paarl Gimnasium is deel van ’n baie groter Gimmie-familie. Die skool het ’n lening aangegaan wat betaal word met geldinsamelings en lojale Gimmie-ondersteuners van die Gim-familie.”

You need to be Logged In to leave a comment.