Helena Senekal. Foto: Simonsvlei Wines/ Facebook


Helena Senekal (41), die keldermeester by die Simonsvlei-wynplaas, is by die onlangse 2024-Lumo-prysuitdeling as die beste vroue-wynmaker van die jaar aangewys.

Sy is reeds 20 jaar lank in die wynbedryf, maar het vanjaar haar “beste jaar nóg” ervaar met verskeie Lumo-toekennings in die sakkie tydens die spoggeleentheid vroeër vandeesmaand.

Dié toekennings sluit in goud vir Simonsvlei se vineyard selection Sauvignon Blanc en Pinot Grigio, dubbelgoud vir die vineyard selection Merlot en Zeffer white blend, asook dubbelgoud vir Simonsvlei se MCC Brut Rosé, wat ook gekroon is as Lumo se beste MCC van die jaar.

Senekal het op ’n wynplaas buite Worcester grootgeword en wynmaak vloei dus dik in haar are.

Vir dié rede kon sy nie anders as om in haar familie se voetspore te volg en ook ’n wynmaker te word nie.

Sy werk reeds sedert 2016 by Simonsvlei as keldermeester, terwyl sy ook voorheen by die Tulbagh-wynlandgoed as wynmaker gewerk het.

Senekal het in 2005 ’n wingerdboudiploma aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Elsenburg-kampus voltooi, en daarna ’n keldertegnologie- en wynevalueringsdiploma op dieselfde kampus.

In 2014 wou Senekal haar sakebestuursvaardighede opknap en het ’n sertifikaat in bestuur aan die US se sakeskool voltooi, met nóg ’n soortgelyke kwalifikasie aan die Universiteit Kaapstad se sakeskool.

Volgens Senekal is vanjaar se Lumo-toekennings nie net merkwaardig in haar professionele kapasiteit nie, maar ook persoonlik.

“2023 se parstyd was ’n jaar van vele persoonlike uitdagings,” het Senekal gesê. Sy het ten spyte daarvan steeds sukses behaal.

Parstyd vind jaarliks gedurende herfs plaas en is een van wynmakers se besigste tye, wanneer hulle lang ure in die kelders of op die wingerdlande deurbring.

Gedurende Simonsvlei se 2023-parsseisoen was Senekal se man in ’n ernstige motorfietsongeluk, en borskanker is ook ’n paar maande ná die ongeluk by haar gediagnoseer.

Sy het nietemin volhard en ten spyte van haar uitdagings groot sukses behaal.

“Daar is nog kompetisies en toekennings wat ek wil jaag, veral ’n Cape Wine Master,” sê Senekal, en verduidelik dat sy dikwels vir haarself klein mikpunte stel.

“Ek sê nie altyd vir almal oor dié mikpunte nie, want ek is bang ek kry dit nie,” vertel sy laggend.

Dié bobaas-wynmaker se gunsteling wyne om te maak én te drink, sluit in Chardonnay en Merlot.

“Daar is ’n uitdaging aan die kultivars en om dit uiteindelik in die bottel te kry.”

Senekal en haar man woon reeds sedert 2018 in die Paarl.

You need to be Logged In to leave a comment.