Klassieke musiekliefhebbers in die Boland kan hulle lippe aflek vir Klassieke Seisoene, ’n reeks van vier Sondagmiddagkonserte.
Die Breytenbach-sentrum in Wellington en die Le Bac-landgoed tussen Wellington en die Paarl bied die vier klassieke konserte, een in elke seisoen, aan waar bekende internasionale sowel as nasionale klassieke musici teen die agtergrond van die Bolandse wynlande en blou berge musiek vir die fynproewer gaan optower.
Die Herfskonsert is 11 Maart, die Winterkonsert 10 Junie, die Lentekonsert 9 September en die Somerkonsert 9 Desember.
Die eerste musiekkunstenaar, wat Sondag 11 Maart by die Le Bac-landgoed op die R45 tussen Wellington en die Paarl optree, is die Italiaanse violis Luca Ciarla. Die titel van sy konsert is “Bach into myself” waarmee hy op ’n moderne wyse van Johann Sebastian Bach se grootste werke herverwerk en so hulde bring aan sy mees geliefde komponis. Ciarla besoek Suid-Afrika in Maart en het landwyd konserte.
Plaaslike klassieke musiekstudente uit die gemeenskap in die omgewing sal hul talente by elke konsert aan die konsertgangers bekend stel. Een of meer van hierdie klassieke musiekstudente sal die gaste by elke konsert met sy of haar musiek verwelkom. Studente uit hierdie gemeenskappe sal by die vierde en laaste konsert van die jaar optree.
Die optrede begin om 18:00.
Konsertgangers kan ná elke konsert gesellig met ’n glasie wyn, koffie, tee, sap en ligte eetgoed ontspan.
Kaartjies kos R80 per persoon en kan bespreek word by teater@breytenbachsentrum.co.za of by Jessica by 021 873 2786.