Illustrasie ter foto. Foto: Jana Scheepers


’n Handjievol spoorweghuise regs van die R44 in Wellington se rigting wat aan die R101 grens, het vir ongeveer ’n maand sonder water gesit nadat die probleem glo reeds verskeie kere aangemeld is.

Volgens ’n inwoner met wie Paarl Post gesels het, het hulle watertoevoer gedurende die eerste week van Januarie opgedroog en is eers op 1 Februarie herstel.

Die inwoner het verduidelik dat die probleem ongeveer vier keer by die Klapmuts-polisie asook die Stellenbosch-munisipaliteit aangemeld was, maar dat die versoeke op dooie ore geval het.

Volgens die inwoner het die munisipaliteit wel middel-Januarie ’n watertenke beskikbaar gestel vir die sowat vyf huise se inwoners, maar dít het glo net ’n paar dae gehou voordat die tenke leeg was en die inwoners weer sonder water was.

Dieselfde huise het gedurende Augustus 2023 vir ongeveer twee weke in die donker gesit nadat Eskom nie betyds foutiewe kraglyne herstel het nie.

Volgens Stuart Grobbelaar, ’n woordvoerder van die Stellenbosch-munisipalitet, is die munisipaliteit bewus van die situasie.

Die betrokke huise is geleë op grond wat deur Transnet besit word en bly die eiendom van Transnet. Waterdienste aan hierdie inwoners word deur die Stad Kaapstad verskaf. Ongelukkig het Transnet ’n uitstaande waterrekening van meer as R560 000, wat lei tot die ontkoppeling van die watertoevoer deur die Stad totdat die rekening vereffen is.”

Die Stad is tans in kontak met die grondeienaar (Transnet) en die inwoners wat tans in hierdie huise woon, het Grobbelaar gesê. 

You need to be Logged In to leave a comment.